Lusiano tot in Boland-span

“My pa is die baanopsigter hier by die Caledon-rolbalklub en vandat ons hier op die perseel woon, is my belangstelling in rolbal geprikkel,” sê Lusiano Foster.


“My pa is die baanopsigter hier by die Caledon-rolbalklub en vandat ons hier op die perseel woon, is my belangstelling in rolbal geprikkel,” sê Lusiano Foster.

Lusiano, ’n 16-jarige graad 9-leerder aan Swartberg Sekondêr in Caledon, speel vir die Caledon-rolbalklub en het onlangs vir die Boland junior o.20-span aan die SA kampioenskap in Bloemfontein deelgeneem, waar dié span sesde geëindig het.

Hoewel Lusiano baie ander sportsoorte soos gholf, atletiek, landloop, raakrugby en rugby beoefen, is rolbal gewis sy gunsteling. Op ’n vraag van die Hermanus Times of sy vriende nie dink dis eintlik ’n “oumens”-sport nie, lag Lusiano lekker en sê baie mense dink dis ’n sport “meer geskik vir ouer mense”, maar baie jong mense speel dit deesdae en vier van sy vriende kom speel gereeld saam met hom rolbal.

“Dit is eintlik ’n maklike sport om te doen. ’n Mens hoef nie baie fiks te wees nie, maar daar is tog sekere skills aan verbonde en dit is hoekom ek twee keer per week oefen.”

Theresa Plaatjies, sy afrigter, sê hoewel hy ’n veelsydige sportman is, het sy al in graad 6 en 7 gesien dat hy alle balsporte perfek kan doen. “Toe ek vir die Boland seniors gholf gespeel het, was hy my caddie. Hy is briljant om vir jou ’n lyn te lees. Ek het eintlik baie by hom geleer. Ek het hom gereeld vir junior gholfkompetisies ingeskryf.”

Lusiano noem dat hy nie eintlik tyd het vir stokperdjies nie – alles wentel net om sport. Pasta is sy gunstelingkos en hy wil graag eendag ’n dokter word omdat hy mense wil help.

Willem Foster, Lusiano se pa, wat self ’n kranige rolbalspeler is, sê hy is baie trots op sy seun en oor alles wat hy tot nou al bereik het.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.