Kleinmond was weer vanoggend in rep en roer toe die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gereageer het op ‘n lyk wat by Fisherhaven gevind is.
Daar is dadelik gespekuleer dat dit dalk die liggaam is van die 17-jarige Marno-lee Oerson wat twee weke gelede in Kleinmond verdrink het. Polisieduikers en die NSRI het die liggaam gaan haal. Oerson het as ‘n kringleier op ‘n geestelike voorbereidingskamp in Kleinmond opgetree toe hy in die see op die hoofstrand verdwyn het nadat hy en nog drie tieners glo op ‘n sandbank in die see gestaan het. Volgens Netwerk24 het hy sy balans verloor en ‘n stroom het hom meegesleur.
Wat die voorval nog meer hartseer maak, is die feit dat Oerson se suster Mishca (10) in 2011 ook tydens ‘n skooluitstappie by die Avalon-Springs-oord se swembad verdrink het.