Die hartroerende oomblik toe die ma en dogter ná byna 20 jaar uiteindelik herenig is.


Trane van blydskap, dankbaarheid en verligting het vrylik geloop toe ’n bejaarde ma van Steinkopf ná 18 jaar uiteindelik weer haar geliefde dogter in die oë kon kyk en haar kon vashou.

Die feit dat die twee ná byna 20 jaar weer herenig is, is niks minder as ’n wonderwerk waarby talle “engele” betrokke was nie.

Die eerste stuk van die legkaart het in plek geval toe die polisie vir Lana O’Neill, stigter van Heavenly Promise-plek van veiligheid vir vroue en kinders in Bredasdorp, gekontak het om Janine (*skuilnaam) in te neem.

Volgens Lana was Janine erg deurmekaar, maar sy kon haar ma se adres onthou ten spyte daarvan dat sy nie geweet het wat die datum is of watter jaar dit is nie.

Abigail Cloete van Heavenly Promise het dadelik werk daarvan gemaak om maatskaplike werkers in die Noord-Kaap te kontak. Hulle het toe daarin geslaag om Janine se 71-jarige ma op te spoor. Met behulp van tegnologie kon ma en dogter mekaar deur middel van ’n video-oproep na 18 jaar weer in die oë kyk.

Die probleem was egter hoe om die ma en dogter, wat byna 800 km ver van mekaar af was, weer bymekaar te kry. Lana het dadelik na Jason Milford, ’n oudjoernalis wat tans ’n kommunikasiebeampte vir die Nama Khoi-munisipaliteit in die Noord-Kaap is, uitgereik. Milford het toe die hartseer situasie onder dr. Gustav Bock, speaker van die Nama Khoi-munisipaliteit in die Noord-Kaap, se aandag gebring.

“Ingevolge die Munisipale Finansiële Bestuurswet kon die munisipaliteit nie direk geld voorsien om haar terug te bring nie,” verduidelik Milford.

“Maar danksy spesiale programme van die politieke vleuel het dokter Bock finansiering verskaf om Janine veilig na haar familie terug te bring.”

vrae wat kwel

Hierdie besluit, wat ’n ma se diepste wens vervul het om haar dogter ná amper 20 jaar van verlange en onsekerheid weer in haar arms te hou, is met enorme dankbaarheid begroet.

Milford het die lang pad om Janine by nog ’n engel in Lana se uitgebreide netwerk, Venetia Orgill, se huis op te laai, op Woensdag 13 Februarie aangepak. “Dit was asof sy aanklank by my aksent gevind het en dit haar op haar gemak saam my laat voel het,” vertel Milford.

Janine was baie entoesiasties, maar tog ook emosioneel tydens hul reis na Steinkopf, vertel hy.

Janine was in 2006 laas by die huis vir haar pa se begrafnis, maar daarvan kon sy niks onthou nie.

Die jare tussen-in, waartydens sy glo saam met ’n man in Arniston gewoon het, vertel Milford, is ’n raaisel waaroor Janine óf nie wil praat nie óf weens trauma nie kan onthou nie.

“Sy het geweier om oor die man te praat, wat tot die vermoede lei dat sy moontlik teen haar wil aangehou en mishandel is, gegewe haar geheueverlies en onvermoë om basiese besonderhede oor Arniston te onthou. Sy kon ook nie vir my die man saam met wie sy gewoon het, se naam sê nie,” verduidelik Milford.

“Met haar aankoms in Steinkopf het Janine egter moeiteloos die pad na haar huis gewys, wat toon dat haar vroeë jare en herinneringe aan haar tuisdorp steeds helder is.”

Volgens Milford was die hereniging ’n oomblik van “suiwer emosie en vreugde”.

“Toe ons by haar huis aankom, het sy vir ’n paar oomblikke in die motor bly sit en huil voordat sy haar ma gaan groet het.” Bock het na afloop van die emosionele reünie gesê: “Hierdie herontmoeting is ’n bewys van hoop, veerkragtigheid en die krag van gemeen­skapsamewerking – ’n herinnering dat die pad huis toe altyd moontlik is, maak nie saak hoe lank dit neem nie.”

swaar gekry

Die herontmoeting het egter ’n hart­verskeurende wending geneem toe Janine na haar pa gevra het. Die 71-jarige ma moes haar dogter vertel dat haar pa reeds in 2006 oorlede is.

“Die trane van blydskap het geloop toe ek my kind sien, maar sy is nie dieselfde nie. Dit lyk asof sy baie swaar gekry het en moes vlug, want sy sê dit was baie rof waar sy was. Sy wil net lê en vra aanhoudend dieselfde vrae. Sy onthou ook nie haar kinders nie,” vertel die emosionele ma.

Die familie het haar intussen na die plaaslike kliniek geneem, waar hulle ingelig is dat Janine ’n dokter en sielkundige sal moet sien.

Lana het namens Heavenly Promise vir Bock bedank vir sy onbaatsugtige rol om die ma en dogter ná 18 jaar te herenig. “Ons wil ook vir Jason Milford, wat haar kom haal en huis toe geneem het, sowel as vir Venetia Orgill, by wie sy oornag het, bedank. Dankie aan die maatskaplike werkers in die Noord-Kaap vir hul bystand, Abigail Cloete wat uitgereik het na kontakte in Steinkopf en Hermanus Times vir hul hartroerende berig. Mag julle almal geseën word vir jul bydrae,” sê Lana..Die familie het die Hermanus Times versoek om nie Janine se identiteit bekend te maak nie aangesien hulle nog nie haar kinders ingelig het dat hul ma gevind is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.