Die gemeenskap van Mount Pleasant is in Junie 2018 geruk deur die grusame moord op Sophia van Wyk.
Wat dit nog meer skokkend gemaak het, was die feit dat ’n ma en haar dogter vir die 46-jarige vrou se moord in hegtenis geneem is.
Nou, ná meer as vyf jaar, is Anna Arendse en haar dogter Wilma Vermeulen skuldig bevind aan die moord.
Die twee sal op 5 Desember weer in die Kaapse streekhof verskyn wanneer vonnisverrigtinge begin.
’n Familielid van Sophia het Sondagaand 24 Junie 2018 op die erg beseerde vrou afgekom.
Sophia het in daardie stadium nog gelewe en bloed het by haar mond uitgestroom.
Die familielid het destyds aan Hermanus Times vertel sy kon Vermeulen en Arendse deur die venster sien.
Sy het voorts vertel dat die voordeur vasgesit het en dat een van die verdagtes vir haar geskree het om die deur oop te maak en gedreig het om Sophia dood te maak.
Sy het die bure gevra om die ambulans te bel terwyl iemand anders gestoei het om die deur oop te maak. Vermeulen en Arendse het toe, volgens die familielid, gevlug.
Sophia het nog gelewe toe die paramedici opgedaag het, maar is kort daarna op die toneel dood.
Sy is na bewering gemartel en met ’n elektriese koord gewurg en het twee steekwonde aan die rug opgedoen.
Vermeulen en Arendse is kort ná die grusame moord in hegtenis geneem.
Die ma en dogter het skuld ontken en is op borgtog vrygelaat.
Hulle het ook tydens die verhoor getuig.
Die familielid wat op Sophia afgekom het se getuienis, vertel die polisie, was deurslaggewend in die skuldigbevinding.
“Die getuienis was baie sterk en die getuie was geloofwaardig. Dit het ’n sleutelrol in die skuldigbevinding gespeel,” het ’n woordvoerder van die plaaslike polisie gesê.
Sophia se familie het ook die ondersoekbeampte, sers. Nomvuyo Zweni, en die staatsaanklaer, Harold Engelbrecht, vir hul harde werk en toewyding aan die saak bedank.