Elke keer as sy ‘n swanger vrou of ‘n ma met haar pasgebore baba in haar arms sien, breek Vanashree Klem se hart in duisend stukkies en bars sy in trane uit.
Anders as dié gelukkige vroue sal sy nooit die voorreg hê om haar eersteling in haar eerste oulike uitrusting op te tof, die opwinding en trotse gevoel te hê wanneer familie en vriende die baba die eerste keer ontmoet, om haar kind se hare vir die eerste dag op skool te vleg of haar dogter op haar troudag in die kerk se gang te sien afloop nie. Pleks daarvan moes dié jong ma na bewering hulpeloos toekyk hoe haar dogtertjie, Muneshree, wat op 31 weke gebore is, se toestand stadig maar seker verswak terwyl sy onophoudelik gebloei het.
Klein Muneshree, wat Vrydag 31 Januarie gebore is, was slegs 27 dae oud toe sy haar laaste asem op Woensdag 26 Februarie uitgeblaas het. Die gebroke en getraumatiseerde Vanashree glo haar dogter, wat slegs 750 gram by geboorte geweeg het, se lewe kon gered gewees het indien personeel van die hospitaal vroeër aandag gegee het aan haar klagtes dat “iets” met haar dogtertjie fout was. “Hulle was nalatig. As hulle die oggend al die bloed gestop het, sou my baba nog gelewe het. Hulle het die vorige week bloed getrek – hoekom het hulle toe al nie opgetel haar ystervlakke is laag nie,” het sy in trane gevra.
Gesondheidsdepartement antwoord
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welsyn het in antwoord op navrae van Hermanus Times ontken dat die baba weens nalatigheid dood is. ‘n Verklaring deur die departement lui: “Kliniese verslae dui daarop dat alle toepaslike protokol in die behandeling van die baba gevolg is, in ag genome die komplikasies weens die vroeë geboorte. Ons toegeweide personeel het alles in hul vermoë gedoen om die baba se lewe te red, maar die baba was baie siek en haar toestand het vinnig versleg.”
Die departement het nie vrae rakende Baba Muneshree se toestand en behandeling geantwoord nie en gesê: “Om die baba en ma se privaatheid te beskerm, kan ons nie enige verdere inligting [rakende] die baba se toestand bekendmaak nie.”
Volgens Vanashree het sy die Woensdagoggend vroeg reeds verpleegsters gevra om te kyk wat fout is met haar baba omdat sy die hele nag gehuil het. “Hulle het gesê dis natuurlik. Omdat hulle verpleegsters is, het ek hulle geglo.”
Sy beweer verder dat die dokter wat sy genader het, haar ingelig het dat hy die dagskof-personeel sou inlig dat hulle Baba Muneshree moet ondersoek. Die dagskof-dokterhet haar kind glo eers kort voor 12:00 ondersoek.
“Hulle het die oggend haar voetjie geprik om bloed te trek en die middag haar arm. Sy het heeltyd gebloei en haar twee kombersies was nat van die bloed. Die suster het gesê dis omdat haar ystervlakke en die platelets (bloedplaatjies wat die bloed laat stol) baie laag is. “Omtrent 15:00 het ‘n dokter gehelp om my baba skoon te maak en hulle het ‘n verband omgesit. Die dokter het gesê ek hoef nie bekommerd te wees nie, maar my kind het bly bloei.” Die jong ma is omtrent ‘n uur later ingelig dat bloed vir ‘n oortapping van ‘n hospitaal in Kaapstad af bestel is. “As hulle nie die bloed gehad het en nie reg na my kind kon omsien nie, hoekom het hulle haar nie na ‘n ander hospitaal oorgeplaas waar sy alles kon kry wat sy nodig gehad het nie?” is die vraag wat by Vanashree spook. Intussen moes sy hulpeloos toekyk hoe haar baba verswak.
“Ek het kort voor 20:00 vir die suster gesê sy moet kom; my kind lyk nie reg nie. Die suster, wat ná haar skof gebly het, en ‘n dokter het gekom. Die dokter het vir my gesê my kind het net 5% bloed. Hulle het gou gespeel en alles gedoen wat hulle kon,” onthou Vanashree. “Die betrokke dokter het ‘n ander dokter gebel en gevra wat hulle vir my baba kan gee om die bloeding te stop. Hoekom het ander dokters dit nie gedoen nie?”
Sy moes toe in ‘n ander kamer gaan sit en is kort daarna ingelig dat haar eersteling gesterf het. “Ek het gehuil; ek was gefrustreerd, want hulle kon my kind al vroeër gehelp het. Ek voel my kind is dood as gevolg van nalatigheid.
“Niks gaan my kind terugbring nie. My ma en pa en haar pa kon haar vir die eerste keer vashou nadat sy dood is. Ek het net een foto waar ek haar vashou. Ek het haar net vir ses dae heeltyd by my in die saal gehad; voor dit was sy in die broeikas en ek het haar net by my gehad wanneer ek kangaroo care moes doen. Dinge wat ander ma’s vir granted vat sal ek nooit kan doen nie. Die klere waarin sy sou huis toe gaan sodra sy 1,8 kg geweeg het, is die klere wat ek vir haar aan- getrek het om in begrawe te word,” het Vanashree vertel. “Ek soek nie geld nie, dit gaan nie my kind terugbring nie. Ek soek net geregtigheid en ek wil nie hê ander babas moet sterf as gevolg van nalatigheid nie.”
Leensie Lötter, ‘n woordvoerder vir die departement, het bygevoeg: “Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welsyn wil graag ons simpatie uitspreek aan die familie van Baba Klem in hierdie moeilike tyd, sowel as ons personeel wat die dood van ‘n kind se lewe betreur. Ons bestuurspan sal die kwessie met me. Klem opvolg en enige vrae wat sy en haar familie mag hê, beantwoord.”