Om wakker te word met ’n onbekende man wat jou met ’n mes dreig terwyl jou kind langs jou slaap, is menige vrou se nagmerrie.
Regina Acker is egter dankbaar dat nie sy of haar sewejarige dogtertjie beseer is toe twee mans verlede week by hul huis in Marinerylaan, Hawston, ingebreek het nie.
Regina se pa, Dirk du Plessis, vertel hy het omstreeks 01:00 wakker geword en ’n lig in die gang sien brand. Onder die indruk dat sy dogter die lig vir haar kind aangeskakel het, het hy weer ingesluimer.
Omstreeks 03:20, vertel hy, het sy huilende dogter en kleinkind hom wakker gemaak.
Du Plessis het tot sy skok ontdek dat die skelms sy tablet, wat op die spieëlkassie in sy kamer gelê het, en die foon op sy bedkassie gesteel het.
“Hulle het ook my boor, grinder en ’n staaltrommel gesteel,” vertel hy. Die skelms het ook ’n radio en luidsprekers sowel as ’n gereedskapskis met gereedskap ter waarde van ongeveer R30 000 uit sy voertuig gesteel.
Volgens Du Plessis is hy, toe hy omstreeks 03:30 die voorval by die polisie aangemeld het, ingelig dat die polisie nie die klagte kon bywoon nie omdat dit beurtkrag is.
“Toe ek weer ná 05:00 bel, het hulle (die polisie) gesê hulle kan nie kom nie, want daar was ’n ongeluk. Toe ek omstreeks 07:00 bel, het hulle gesê hulle moet wag vir die skofte om te ruil voordat iemand kan kom,” aldus Du Plessis.
’n Polisievoertuig het eers om 10:00 opgedaag en die speurders omstreeks 11:30, vertel hy. Du Plessis sê hy voel ook ontevrede omdat die polisie, volgens sy mening, nie gereageer het op nuwe inligting rakende die gesteelde goedere wat hy aan hulle verskaf het nie.
Kapt. Fadila September, ’n woordvoerder van die Hermanus-polisie, het bevestig ’n klagte van huisroof word ondersoek.
“Die ondersoekbeampte, sers. Williams, is in kontak met die klaer en alle leidrade word opgevolg. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het sy bygevoeg.
Volgens September is ’n interne ondersoek oor Du Plessis se klagtes van stapel gestuur.