Twee aktiviste wat hulle beywer vir die beëindiging van geweld teen vroue en kinders sal na verwagting Vrydag in die Grabouw-landdroshof verskyn om ‘n interim-hofbevel teen te staan wat hulle verbied om inligting op sosiale media te plaas rakende die hofverskyning van die seun wat van Deveney Nel se moord aangekla is.
Die aansoek vir die interim-bevel om Tanya Bippert en Lucinda Evans van die organisasie 1 Billion Rising te muilband, is volgens berigte deur die 18-jarige moordbeskuldigde se ma voor die hof gebring.
Die tiener se naam mag nie bekend gemaak word nie aangesien hy ingevolge die Kinderwet aangekla word omdat hy minderjarig was toe hy na bewering die moord gepleeg het en toe hy in hegtenis geneem is. Sy ma se naam mag dus ook nie gepubliseer word nie.
Bippert het bevestig dat sy Vrydag in die Grabouw-landdroshof moet verskyn om die aansoek teen te staan.
“Ek is verbied om enigiets rakende die saak op sosiale media te plaas of te deel. Al wat ek kan doen is om vir steun buite die hof te vra, maar ek mag nie kommentaar op enige van my plasings toelaat nie,” het sy verduidelik.
Sy het erken dat sy “erg ontsteld” is oor die aansoek om haar te muilband en bygevoeg: “Ek kan nie verstaan dat mense die hof kan nader om iemand stil te maak wat niks verkeerd gedoen het nie. Ek wil veg vir beter beskerming vir aktiviste en fluitjieblasers.
“Ek wil dit (die hofsaak) in iets positief verander en veg vir die Kinderwet om aangepas te word, want dit beskerm nie regtig ons law-abiding kinders nie. Ons wil ook veg vir ouers om verantwoordelik gehou te word vir hul kinders se dade,” het sy bygevoeg.
Bippert, wat met elke hofverskyning sedert die tienerseun se inhegtenisneming in Augustus 2024 tesame met ander aktiviste en lede van die gemeenskap buite die hof betoog het om “Justice for Deveney” te eis, het haar in die verlede skerp uitgespreek teen die feit dat die tienerseun se identiteit en regte deur die Kinderwet beskerm word.
Die jong man, wat 17 jaar oud was toe hy in Augustus 2024 vir Deveney Nel se moord in hegtenis geneem was, maar in April sy 18de verjaardag gevier het, verskyn Woensdag 25 Junie in die Caledon-landdroshof vir die bekendmaking van die hooggeregshofdatum.
Eric Ntabazalila, die Wes-Kaapse woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het vroeër aan die Hermanus Times bevestig dat die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, advokaat Nicolette Bell, beslis het dat die tienerseun se verhoor in die Wes-Kaapse hooggeregshof sal plaasvind.
Die beskuldigde het vroeër vanjaar ‘n maand lank sielkundige waarneming by die Valkenberg-psigiatriese hospitaal ondergaan. Daar is bevind dat hy wel toerekeningsvatbaar is en dus geskik is om verhoor te word.
Die datum vir die tienerseun se eerste verskyning in die Wes-Kaapse hooggeregshof sal Woensdag bekend gemaak word.
* Deveney se liggaam is op 7 Augustus 2024 in ‘n stoorkamer van die Hoërskool Overberg in Caledon gevind nadat sy as vermis aangemeld is. Sy het na bewering verskeie steekwonde aan haar lyf gehad. Enkele dae na die voorval is die minderjarige seun in hegtenis geneem.