‘n 26-jarige vrou van Kleinmond is Woensdagaand (15 April) in hegtenis geneem ure na sy ‘n plasing op Facebook gesit het waar sy haar ses maande oue babadogtertjie vir R4 500 wou verkoop.

Luitenant-kolonel Anna May van Kleinmond-polisie en haar span het Woensdag om 21:00 die inligting van die Facebook-plasing ontvang ­en sy en haar span is dadelik na die vrou se woning om haar in hegtenis te neem.

Die vrou se ses maande oue babadogtertjie is aan die ma se suster oorhandig totdat kinderwelsyn verdere besluite moet neem oor die kind se toekoms.

Jacques Oosthuizen, voorsitter van die Hangklip- en Kleinmond-gemeenskapspolisiëringsforum, bedank almal wat gehelp het met die saak. “Ek wil ook die plaaslike stasiebevelvoerder bedank vir haar hulp so laat in die aand. Die operasie is teen 23:00 voltooi,” sê Oosthuizen.

Die verdagte verskyn vandag (Vrydag) in die Caledon-landdroshof en ‘n saak van poging om ‘n misdryf te pleeg ingevolge hoofstuk 2 van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Mensehandel word tans deur die polisie ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.