Rugbyspelers en -ondersteuners van Overbergse klubs wat aan die Streeksuitdaag-liga deelneem, kan nie wag dat die 2022-rugbyseisoen na twee dooie jare weer afskop nie. Die voorsitters van die onderskeie klubs is “versigtig optimisties” terwyl afrigters sedert die tweede week in Januarie begin het met fiksheidsprogramme vir voornemende spelers. Op Napier het Nathan October, afrigter van die dorp se A-span, bevestig dat hulle Dinsdagaand 18 Januarie met fiksheidsoefeninge by die sportkompleks op die dorp begin het. “Ons gaan eers ’n bietjie wag met kontak en eers fokus op kondisionering van spelers om beserings te voorkom en te vermy,” was sy kommentaar. ’n Vergadering met die Boland-rugbyunie oor die pad vorentoe word volgens Godfrey Gertse, Sea Hawks van Arniston se voorsitter, beplan. Tot tyd en wyl moet ondersteuners maar net geduldig wees en moet voornemende spelers hulle daarop toespits om wedstrydfiks te word.