Sosiale media het verlede week behoorlik gegons oor mense in ’n onbekende wit voertuig wat glo vroulike leerders van Emil Weder Sekondêre Skool in Genadendal genader het.
Adjudant-offisier Eric Duminy, die hoof van die Genadendal-polisie se sigbarepolisiëring-eenheid, sê om sulke nuus op sosiale media te versprei sonder dat die regte feite vasgestel is, kan gevaarlik wees.
“Onskuldige mense kon seergekry het,” het hy verduidelik.
Volgens Duminy het die polisie dadelik werk daarvan gemaak om die voertuig op te spoor en die feite oor die insittendes se identiteit sowel as die redes vir hul optrede vas te stel.
“Ons het vasgestel dat hulle werknemers is van ’n maatskappy wat navorsing oor die gebruik van selfone onder veral tieners doen,” het hy genoem.
“Ons het hulle ook gevra om in die toekoms voor die tyd by die polisiekantoor aan te meld aangesien hul optrede vir die gemeenskap verdag kan lyk.”
Die polisie het na aanleiding van die voorval ook die hoërskool besoek om belangrike bewusmaking te doen. Die leerders en personeel is attent gemaak op die belangrikheid daarvan om soveel inligting moontlik, insluitend die voertuig se kleur, fabrikaat en registrasienommer, sowel as beskrywings van die verdagtes, te kry indien hulle deur vreemde mense genader word of bedreig voel.
“Indien jy ’n selfoon het, is dit belangrik om foto’s te neem en die voorval dadelik by die polisie aan te meld sodat ons onmiddellik kan optree,” het Duminy beklemtoon.