Die Kaapse kobra.

Boland Snake Removals 24/7 & Pest Controls

Die somer is híér en dit beteken ook die slangseisoen is terug. ’n Bekende slangvanger het die volgende moets en moenies vir vanjaar se slangseisoen beklemtoon:

Giftige slange

Volgens hom leef drie soorte giftige slange in die Overberg waarvoor mense op die uitkyk moet wees, en dit sluit in die Kaapse kobra, die pofadder en die boomslang.

Hy het verduidelik dat een byt van ’n Kaapse kobra ’n mens binne 30 minute kan doodmaak indien jy nie ’n hospitaal besoek vir teengif nie, terwyl ’n pofadder-byt jou effens meer tyd gee, met teengif wat binne minstens 12 uur gebruik moet word.

’n Boomslang bevat hemotoksiese gif wat ernstige interne bloeding veroorsaak en tot iemand se dood kan lei.

Volgens hom byt ’n boomslang selde, maar wanneer dit wel gebeur, is dit noodsaaklik om binne vier ure by ’n hospitaal uit te kom.

’n Kobra-byt bevat nerotoksiese gif wat die senuweestelsel aantas en verlamming kan veroorsaak, terwyl ’n byt deur ’n pofadder sitotoksies is, wat beteken dat dit weefselselle doodmaak. Wanneer een van hierdie slange gewaar word, is dit noodsaaklik om doodstil te staan en wanneer dit veilig is, stadig weg te beweeg en dadelik ’n slangvanger te kontak.

Minder gevaarlike slange

Ander minder gevaarlike slange is onder meer die skaapsteker, gestreepte Karoo-sand­slang, die rooilipslang, bruin huisslang asook die molslang. Volgens hom hou hierdie slange geen lewensgevaar vir mense in nie, maar hulle kan wel seer byt – veral die molslang, wat “ ’n hele vinger kan afruk”.

Hy verduidelik dat ’n skoon erf minder slange sal lok omdat daar minder knaagdiere sal ronddwaal.

Waterkenmerke soos fonteine of swembaddens kan ook slange lok – veral op warm dae wanneer die slange dors raak of wil afkoel, maar ook omdat daar paddas voorkom wat slange graag vang om te vreet. Volgens die African Snakebite Institute (ASI) word nagenoeg 4 000 mense elke jaar in Suid-Afrika deur slange gebyt. Die meeste van hierdie bytvoorvalle gebeur in die vroeë aande, hoofsaaklik tussen November en April, en veral op warm, reënagtige nagte.

“Slange is nie aggressief nie en byt gewoonlik uit wanhoop – wanneer iemand op hulle trap, hulle per ongeluk in ’n beperkte gebied vasgekeer word of wanneer iemand probeer om een dood te maak. Gewoonlik sal slange –- as hulle die geleentheid kry – eerder wegseil, maar baie sal nie huiwer om te byt wanneer hulle ’n gevaar of bedreig voel nie,” het ASI gesê.

Teengif

“Suid-Afrikaanse Vaksine-produsente (SAVP) produseer twee soorte teengif vir Suid-Afrikaanse slange – ’n monovalente boomslang-teengif wat selde gebruik word, aangesien die boomslang selde byt, en ’n polivalente teengif wat gemaak word van die gif van tien verskillende slange.” Dit sluit kobra’s, swartmambas, die rinkhals, pofadder en gaboen-adder in. Teengif word slegs in hospitale toegedien, want, soos baie ander medisyne, kan die pasiënt newe-effekte ervaar wat anafilaktiese skok insluit en tot sterftes kan lei. Sedert die aanbreek van die Covid-19-pandemie het SAVP produksieprobleme ondervind, en oor die afgelope paar jaar was daar verskeie voorvalle van ’n tekort aan teengif.

Die meeste groot hospitale in hoërisiko- gebiede hou ’n bietjie teengif in voorraad, maar dit raak by die dag minder. “Om op te maak vir die tekort, word alternatiewe teengif genaamd Pan African Premium ingevoer, maar dit vereis dubbel die dosis, en dus dubbel die prys,” volgens ASI.

You need to be Logged In to leave a comment.