Man in hof ná puik speurwerk nadat bejaarde vermoor is

Goeie speurwerk het verlede week daartoe gelei dat ’n verdagte in minder as ’n week in verband met die moord op ’n bejaarde vrou in Bredasdorp aangekeer is.


Goeie speurwerk het verlede week daartoe gelei dat ’n verdagte in minder as ’n week in verband met die moord op ’n bejaarde vrou in Bredasdorp aangekeer is.

Kapt. Linda Volkwyn, die Bredasdorp-polisie se speurtakbevelvoerder, het bevestig Anthony Visser (23) is aangekla van die moord op Adriana Gresse.

Gresse se liggaam is Saterdag 21 Oktober in die spaarkamer van haar woonstel ontdek nadat ’n besorgde buurvrou ondersoek ingestel het toe sy opgemerk het die veiligheidsbewuste Gresse se veiligheidshek staan oop.

Die afgetrede voormalige vakadviseur is vermoedelik verwurg en van haar besittings is gesteel.

“Inligting rakende die gesteelde goedere is opgevolg en dit het ons tot die verdagte gelei,” het Volkwyn verduidelik.

Visser het Maandag 30 Oktober die eerste keer op aanklagte van moord, huisbraak en diefstal in die Bredasdorp-landdroshof verskyn.

Die saak is tot Woensdag 8 November vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel.

Volkwyn het verder ook bevestig dat nog ’n man vir die besit van gesteelde goedere in hegtenis geneem is nadat die bejaarde slagoffer se selfoon in sy besit gevind is.

“Dit moet as waarskuwing dien aan die publiek om nie gesteelde goedere te koop nie aangesien dit ook ’n misdaad is,” waarsku Volkwyn.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.