Man skiet vrou, homself

’n Werknemer van die Theewaterskloof-munisipaliteit in Caledon het hom Saterdag voor die oë van Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum, doodgeskiet oomblikke nadat die man sy vervreemde vrou in die straat voor hul huis geskiet het.


’n Werknemer van die Theewaterskloof-munisipaliteit in Caledon het hom Saterdag voor die oë van Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum, doodgeskiet oomblikke nadat die man sy vervreemde vrou in die straat voor hul huis geskiet het.

Wyngaard het Sondag aan Netwerk24 gesê hy het Saterdag omstreeks 14:00 op die toneel aangekom net nadat die man sy vrou geskiet het. Hy het Wyngaard gevra om die ambulansdienste te bel, en terwyl Wyngaard op die telefoon met die polisie besig was, het hy homself geskiet. Die voorval was in Hoofweg in Bergsig, het kol. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.

Die polisie ondersoek dit as moord en ’n geregtelike doodsondersoek, en het nie die egpaar se name bekend gemaak nie, maar gesê die vrou was 43 jaar oud.

Netwerk24 verneem betroubaar die egpaar is Matsemela en Bianca Morobi. Matsemela het by die Theewaterskloof-munisipaliteit gewerk en Bianca was ’n werknemer by die Caledon Casino. Die egpaar was van mekaar vervreem en het nie meer saamgewoon nie.

Wilfred Solomons, die direkteur van gemeenskapsdienste en waarnemende munisipale bestuurder, het by navraag gesê hy het dadelik senior amptenare na die toneel gestuur om die kinders en ander familielede by te staan.

Wyngaard, wat in Caledon woon, het die polisie en ambulansdienste bedank vir hul vinnige reaksie. Hy sê toe die ambulans op die toneel opdaag, het die vrou nog tekens van lewe getoon, maar sy kon nie gered word nie.

Die man is dadelik dood. “Hierdie is ’n hartseer en skokkende kombinasie van drie van die ergste misdaadbekommernisse in die provinsie – huishoudelike geweld, geslagsgeweld en vuurwapengeweld. Dit is natuurlik moeilik om huishoudings en huwelike te polisieer, maar die voorval is opnuut ’n wekroep oor die beheer van vuurwapenbesit. Net so kommerwekkend is die feit dat kinders, soos in talle ander soortgelyke gebeure, deur die voorval wees gelaat is.”

Kaapse Forum het Caledon – as setel van die Theewaterskloof-munisipaliteit en ’n sentrale dorp in die Overberg – geprioritiseer vir ’n gemeenskaps­veiligheidsprojek. Polisiëring en gemeenskapsveiligheid is volgens Wyngaard een van Kaapse Forum se 10 fokusgebiede. – Netwerk24

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.