Man sterf in berg

’n Poging om ’n man te red wat in ’n rotspoel in die berge net voor Vark se Snoet geval het, het tragies geëindig toe die erg beseerde man in die donker dieptes van die water verdwyn het.


’n Poging om ’n man te red wat in ’n rotspoel in die berge net voor Vark se Snoet geval het, het tragies geëindig toe die erg beseerde man in die donker dieptes van die water verdwyn het.

Jaco JD Nel (34) is Maandag 9 Desember saam met ’n vriend teen die berg op om iemand se hommeltuig te help soek toe hy volgens bronne geval en in die diep rotspoel beland het.

Dié vriend het dadelik hulp ontbied en ’n soek-en-reddingspan van Wilderness Search and Rescue (WSAR), bestaande uit onder meer die polisie, Overstrand brand- en reddingsdienste, AfriForum se Overstrand-tak se lugvleuel, die Wes-Kaapse gesondheids­departement se mediese-nooddienste-eenheid (EMS), die Hermanus-buurtwag en die CMC- private ambulansdiens het hulle na die toneel tussen Hermanus en Stanford gehaas.

Lourens Theron van AfriForum se Alfa-buurtwag sê die terrein is byna onbegaanbaar. Dít, sowel as die feit dat die rotspoel in ’n skeur in die berg oorkant die Rocklands-troetelplaas is, het die soektog belemmer.

“Ons hommeltuig het om 18:55 opgestyg en die man is kort daarna nog lewend, dog erg beseer, opgespoor. Hierdie inligting en die bepaling van die posisie was kardinaal in die reddingsoptrede wat deur die nag sou volg,” verduidelik Theron.

Ander reddingswerkers van onder meer Cape Town Mountain Rescue Club het ook opgedaag om die erg beseerde man te probeer red.

Volgens Theron het twee reddingspanne te voet ’n poging aangewend om by die beseerde te kom terwyl die son reeds begin sak het.

“Eers het ’n groep van sewe opgegaan. Later het WASR se span van vyf ook die berg bestyg. Intussen het EMS se hommeltuig-span opgedaag en die AfriForum-span het gehelp om hulle op hoogte gebring. Ongeveer 02:00 was die eerste span by die waterval se dam. Ongelukkig was die beseerde nie meer sigbaar nie,” sê Theron.

Terwyl die reddingspoging onderweg was, vertel Nel se vriend Kenneth van Schoor, het die onsekerheid oor of die jong man nog lewe, hulle opgevreet.

Francois Calitz het Maandag op sosiale media die hoop uitgespreek dat die reddingspan sy vriend sou kon red en vir almal se gebede gevra.

Sy Facebook-plasing het gelui: “Rescue personeel gaan deurnag werk om hom uit die krans te kry en hopelik veilig by die hospitaal te kry . . . dinge lyk nie goed nie, maar ons vertrou op ons Vader dat hy vir JD gaan spaar en nog dae of jare op ons aarde gaan gee. “GEBEDE is al wat hom gaan red. Dankie aan al die rescue-personeel.”

Die reddingspoging het ongelukkig nie die einde gehad waarvoor Nel se geliefdes gebid het nie.

Die reddingshelikopter en die polisie is die volgende oggend ontplooi na die plek waar Nel laas gesien is.

’n Polisiewoordvoerder het bevestig die 34-jarige Nel se lyk is omstreeks 13:00 Dinsdag gevind en per helikopter na Hermanus teruggevlieg.

“ ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen,” sê die polisie.

“Alhoewel dit ’n tragiese geval is, is ons verstom en dankbaar vir die vlak van professionaliteit van die lede en organisasies en alle betrokkenes wat prysenswaardig was, met die lede wat verder as hulle plig en ook in lewensgevaar opgetree het,” sê Theron.

Ook Van Schoor het net lof vir die reddingswerkers gehad en sê: “Dit is tragies dat JD gesterf het, maar dit is niemand se skuld nie. Die reddingswerkers is baie ervare maar dit was ’n baie moeilike reddingspoging.”

Hy sê ook dat dit ironies is dat hy die dag voor Nel se dood ’n boodskap uit 1 Korinthiërs 10:12 vir hom gestuur het wat lui: “So, if you think you are standing firm, be careful that you don’t fall” – met ’n foto daarby van ’n man wat op ’n hoë bergtop staan.

“En die volgende dag het hy fisiek geval en nou het hy by sy ma in die hemel aangesluit. JD sal altyd onthou word as ’n jong, gewillige man wat altyd mense in nood sou help. Hy was positief en het altyd enige moeilike situasie probeer oplos. Hy het ’n hart vir gebrokenes gehad en ons almal was trots op hom te ken as ‘JD die betroubare’. Sy vriendelike geaardheid was merkwaardig.

“Aan my goeie vriend JD, rus in vrede. Jou stryd op aarde is op ’n einde en jou wedloop is voltooi.”

. Reddingspanne is Donderdag ook ontplooi om ’n stapper in die berge by Phillipskop-natuurreservaat te voet op ’n draagbaar uit die berge te dra nadat sy te swak geraak het om die staptog te voltooi. CMC-private ambulansdiens het haar na ’n nabygeleë hospitaal vervoer.

You need to be Logged In to leave a comment.