’n Inwoner van Hawston is in hegtenis geneem nadat hy na bewering ’n man doodgesteek het.
Kaptein Fadila September, woordvoerder van die Hermanus-polisie, sê die presiese omstandighede rakende die voorval wat in Swartstraat, Hawston gebeur het, is nog nie bekend nie.
“Die man het volgens berigte uit die huis gegaan en ’n kort rukkie later teruggekeer met ’n meswond in sy bors,” het September berig. Die polisie is Dinsdag 8 November omstreeks 22:30 na die Hermanus-hospitaal ontbied nadat ’n 53-jarige man met ’n meswond in die hospitaal opgeneem is.
“Die slagoffer is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar,” aldus September. Nadat die polisie inligting opgevolg het, is die 50-jarige verdagte in hegtenis geneem. Hy sal binnekort op aanklag van moord in die Hermanus-landdroshof verskyn.