’n Inwoner van Hawston is in hegtenis geneem nadat hy na bewering ’n man doodgesteek het.

Kapt. Fadila September, ’n woordvoerder van die Hermanus-polisie, sê die presiese omstandighede rakende die voorval, wat in Swartstraat, Hawston, afgespeel het, is nog nie bekend nie.

“Die man het volgens berigte uit die huis uit gegaan en later teruggekeer met ’n meswond in sy bors,” het September gesê.

Die polisie is Dinsdag 8 November omstreeks 22:30 na die Hermanus-hospitaal ontbied nadat ’n 53-jarige man met ’n meswond in die hospitaal opgeneem is. “Die slagoffer is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar,” het September gesê.

Nadat die polisie inligting opgevolg het, is ’n 50-jarige verdagte in hegtenis geneem. Hy het reeds op aanklag van moord in die Hermanus-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.