Man vas ná rooftog

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ’n 86-jarige vrou tydens ’n huisroof met ’n mes gesteek het, staar buiten die klag van huisroof ook twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en seksuele aanranding in die gesig.


Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ’n 86-jarige vrou tydens ’n huisroof met ’n mes gesteek het, staar buiten die klag van huisroof ook twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en seksuele aanranding in die gesig.

Die aanklagte spruit uit ’n voorval wat Maandag 30 Mei omstreeks 05:30 in De Villiersstraat in Sandbaai afgespeel het.

Kapt. Fadila September, ’n woordvoerder van die Hermanus-polisie, sê die 86-jarige slagoffer was volgens berigte op pad na die kombuis om koffie te maak toe die onbekende man haar aangeval en in die skouer gesteek het.

“Sy het geskree en hy het probeer vlug,” het September bygevoeg.

Die 86-jarige slagoffer se kleinseun, wat ook in die huis woon, het vertel die verdagte was blykbaar eers in sy broer se dogter se kamer en het hom aan haar ontbloot.

“Hy het haar ook met die mes op haar maermerrie gesny. Dit lyk asof hy toe uit die kamer is toe my ouma die kombuislig aansit om koffie te maak en haar toe aangeval het.

“As my ouma nie wakker geword het nie, kon dit soveel erger vir my broer se kind gewees het,” sê die man.

Die vrou se twee kleinseuns het toe die verdagte agternagesit en hom in die bure se werf vasgetrek.

“Hy het my broer met ’n baksteen gegooi en hom met die mes probeer steek. My broer het ’n snywond in sy gesig. Hy het toe die man se arm gegryp en hom daar gehou totdat hulp opgedaag het,” vertel die man.

Die familie het ’n skootrekenaar, selfoon, klere en ander artikels wat gesteel is, in hul bure se erf gekry.

Die 86-jarige vrou is per ambulans na die hospitaal vervoer.

“Ons het berading ontvang en is almal nou oukei,” het die man aan Hermanus Times gesê.

Die 28-jarige verdagte is op die toneel in hegtenis geneem.

Kapt. September sê die verdagte sou na verwagting Dinsdag 7 Junie in die Hermanus-landdroshof om borgtog aansoek doen.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.