In die beeldmateriaal van die voorval kan gesien word hoe ’n man ’n kind beskerm, wat reg langs iemand wat aangeval word, gestaan het. Die man het die kind weg van die toneel af gedra.


’n Dag van ontspanning langs die rugby­veld het in chaos ontaard toe ’n bakleiery uitgebreek het en skote afgevuur is.

Die deurmekaarspul verlede Saterdag op Botrivier se rugbyveld na afloop van ’n vriendskaplike wedstryd tussen Botrivier en Macassar het tonge behoorlik aan die klap gehad nadat ’n video, waarin duidelik gesien kan word hoe ’n man aangerand word terwyl ander geskok toekyk, op sosiale media versprei is. In die video kan duidelik gehoor word hoe een man die aanvallers met kru taal aanhits en sê: “Hy wil dit hê.”

Ewe skokkend is die feit dat die aanval enkele treë van ’n verbouereerde kind afgespeel het. In die video kan gesien word hoe ’n man tot die kind se redding kom, hom opraap en wegdra.

In reaksie op die video het iemand gesê: “Wat ’n treurige dag vir Boland-rugby . . . ”

Die Boland-rugbyunie se president, Bennie van Rooi, het bevestig die voorval het plaasgevind nadat die eindfluitjie geblaas het. Hy het gesê die aangeleentheid word deur die polisie ondersoek. “Die BRU en albei klubs wag vir die verslag van die polisie voordat ons ’n besluit neem oor wat ons te doen staan,” het Van Rooi bygevoeg.

Die polisie het intussen bevestig dat een man (42) Sondag 5 Februarie in hegtenis geneem is en in die Caledon-landdroshof op aanklag van die afvuur van ’n vuurwapen in ’n munisipale gebied verskyn het.

AO Joseph Swartbooi, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, berig die man is in hegtenis geneem na aanleiding van ’n struweling tussen lede van die plaaslike gemeenskap en ’n man langs die rugbyveld. “Die man het skote afgevuur en gevlug. Die lede van die gemeenskap het die verdagte vasgetrek en aangerand,” het Swartbooi verduidelik.

Die Macassar-rugbyklub het in ’n verklaring gesê die klub se bestuur werk nou saam met dié van die Botrivier-rugbyklub en die owerhede om die voorval te ondersoek.

“Ons is toegewy daartoe om die ondersoek na wat aanleiding tot die oorsaak van die struweling gegee het, te ondersteun en om die nodige aksie te neem om enige herhaling te voorkom,” lui die verklaring.

“Die veiligheid en welstand van almal betrokke by ons wedstryde – tuis en weg – bly ons prioriteit.”. Die polisie versoek dat enigeen wat die voorval sien gebeur het, Stop Misdaad se tolvrye nommer 08600 10111 moet skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.