Bianca du Plessis
‘n Man is verlede week in Onrus dood terwyl nog vier mense volgens berigte uit ‘n voertuig geslinger is toe die bestuurder vermoedelik beheer daaroor verloor en dit van die R43 af gery het.
Steven “Tarrie” Tarentaal, ‘n jongman van Kleinmond, is op die toneel dood. Vier ander mense, onder wie sy broer Erno Adams, is in die ongeluk beseer. Die voorval het Donder–dag 27 Maart om 19:52 gebeur.
Kol. Nickey Steyn, die Hermanus- polisie se speurtakbevelvoerder, sê die vermoede bestaan dat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en dit gerol het. “Die oorledene is vermoedelik uitgeslinger toe dit gerol het en was onder die wrak vasgepen. Slegs een voertuig was in die ongeluk betrokke. ‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek,” het Steyn gesê.
Elvisia Wilskut, Tarentaal se suster, sê Erno is na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, waar hy steeds in ‘n kritieke dog bestendige toestand is. Die nuus van haar broer se dood was ‘n baie groot skok en het almal in rou gedompel aangesien hy oral in Kleinmond bekend was. “Steven was klein maar ge-train. Hy het ‘n baie groot hart in sy klein lyfie gehad. Hy was ‘n grapjas en het altyd ‘n glimlag op sy gesig gehad.”