In November 2009 het die Verenigde Nasies 18 Julie tot Internasionale Nelson Mandeladag verklaar om die 67 jaar wat Mandela vir maatskaplike geregtigheid geveg het, te herdenk.
Dit het gebruiklik geword om op dié dag, wat ook Mandela se verjaardag was, 67 minute se opheffingswerk in gemeenskappe te doen.
In Caledon is die dag op verskeie maniere gevier. Hermanus Times het by drie plekke gaan inloer om te kyk wat hulle op die spesiale dag gedoen het.
Die personeel van die Caledon-biblioteek het na minderbevoorregtes in die gemeenskap uitgereik deur snoesige warm komberse aan hulle te oorhandig. In die biblioteek het Curtley Fortuin, een van die ICT-kadette, vir mans en seuns ’n gratis haarsny aangebied.
Lizël Kimber en Charl Folscher van Beyond Black Mountain, het aan die inligtingshokkie in die middedorp nuwe lewe gegee deur dit te verf en te verfraai.
Inligting oor gebeure in en om die dorp sal gereeld hier uitgestal word.
Die Caledon-museum het nie net Mandeladag gevier nie, hulle het die hele maand aan Mandela gewy met ’n Mandela-uitstalling in die Viktoriaanse museumhuis. Besoekers kan die uitstalling tot einde Julie besigtig. Op Mandeladag het die museum na ’n plaaslike kleuterskool gegaan waar hulle die kinders se gesigte geverf het, asook die nou bekende gekleurde handafdrukke gedoen het.
Goeie dade behoort nie net tot Mandeladag beperk te wees nie. Maak elke dag ’n Mandeladag deur iets positiefs in die gemeenskap te doen. Al is dit net om ’n stukkie papier op te tel en in ’n vullisblik te gooi.