Solution Base, verteenwoordig deur Trevor Hermanus (links), het van die geskenkbewyse aan ouers in Riviersonderend en Voorstekraal, Genadendal oorhandig.


’n Vakansieprogram wat tydens die Desember-skoolvakansie van stapel gestuur is, was vir meeste deelnemers soos “manna uit die hemel”.

Die kinders het nie net genot daaruit geput en nuwe vaardighede geleer nie, maar is ook aan die einde van die program beloon met geskenkbewyse vir broodnodige skryfbehoeftes en skoolklere.

Trevor Hermanus, stigter van die niewinsgewende organisasie Solution Base, sê daar is besluit om die vier weke lange vakansieprogram in Voorstekraal in Genadendal en in Riviersonderend aan te bied.

“Ons het op hierdie twee gebiede besluit omdat dwelmmisbruik en misdaad onder kinders daar ’n probleem is,” verduidelik Hermanus. “Die doel van die program was om die kinders in ’n veilige omgewing en weg van dwelms en misdaad te hou.”

Die program is deur Solution Base in samewerking met Designers Without Borders in Grabouw aangebied. Finansiering vir die projek, sê Hermanus, is deur die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling en die Theewaterskloof-munisipaliteit se burgemeestersfonds verkry. Die Morawiese Kerk het sy kerksale beskikbaar gestel.

“Die geld wat ons van die Burgemeestersfonds gekry het, is gebruik om die fasiliteerders en toebehore wat vir die aktiwiteite nodig was sowel as kos vir die deelnemers te betaal,” berig Hermanus.

Die kinders is Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 14:00 besig gehou met verskeie aktiwiteite soos dans, sing, drama, sport, stories lees, kuns en praatjies wat aangebied was deur die plaaslike polisie. Hulle het ook gehelp om rommel op te tel en meer geleer oor herwinning. Die kinders is ook op uitstappies in die natuur geneem.

Na afloop van die vakansieprogram het altesaam 170 skoolgaande kinders (graad 1-12) wat die program gereeld bygewoon het, elkeen ’n geskenkbewys ter waarde van R1 000 ontvang om skoolklere en skryfbehoeftes by Pepkor te koop.

Volgens Hermanus beoog hulle om die skoolvakansieprogram elke Junie- en Desember-vakansie aan te bied.

Hy voeg by: “Die program was so suksesvol dat die departement van maatskaplike ontwikkeling ons gevra het om dit na Bredasdorp uit te brei.”

You need to be Logged In to leave a comment.