Twee mans wat na bewering ‘n huis in Hawston beroof het, is in hegtenis geneem.


Twee verdagtes wat na bewering by ’n huis in Hawston ingebreek en die inwoners gedreig en beroof het, is aangekeer.

Kaptein Fadila September, woordvoerder van die Hermanus-polisie, berig dat die verdagtes, onderskeidelik 28 en 31 jaar oud, Woensdag 9 November in hegtenis geneem is. Van die gesteelde goedere, onder meer ’n televisie, motorradio en “dongle”, is teruggevind. Die mans is daarvan aangekla dat hulle verlede week by ’n huis in Marinerylaan, Hawston ingebreek, ’n vrou met ’n mes gedreig en verskeie goedere gesteel het.

Regina Acker het volgens berigte wakker geword toe twee mans in haar kamer gekom, haar met ’n mes gedreig en geld geëis het. Haar sewejarige dogtertjie wat langs haar geslaap het, is ook erg deur die voorval getraumatiseer. Kaptein September het bevestig dat ’n interne ondersoek van stapel gestuur is rakende die slagoffer se pa, Dirk du Plessis, se klagtes dat die polisie nie onmiddellik reageer het toe hy die voorval aangemeld het nie. Volgens Du Plessis moes hy R500 betaal om van sy gesteelde goedere en inligting oor die verdagtes te kry.

“Ek het al die moeite gemaak en vir die polisie inligting gegee oor die skelms en waar my gesteelde goed is. Iemand het een van die verdagtes na my huis toe gebring en ek het die polisie laat weet. Hulle het hom en die ander verdagte toe opgesluit,” sê Du Plessis.

September het bevestig dat die speurders inligting van Du Plessis opgevolg het en dat sersant Crystal Plaatjies op grond daarvan verdagtes in hegtenis geneem het. “Dit is ’n goeie bewys dat vrugte afgewerp word wanneer die gemeenskap met die polisie saamwerk. Alle inligting word tot die beste van ons vermoë opgevolg. Daar moet egter eers genoegsame bewyse ingesamel word voordat ons ’n verdagte in hegtenis kan neem en aankla,” het September gesê. “Een van die verdagtes is vrygelaat omdat daar nie genoegsame bewyse was om hom met die voorval te verbind nie”. Die ander verdagte het Donderdag 10 November op aanklagte van huisroof en die besit van gesteelde goedere in die Hermanus-landdroshof verskyn. Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.