Mariëtte Pretorius (agter, derde van regs) saam met haar “elfies” wat haar elke jaar met die Kinderhuis-Kersprojek bystaan.


“Dit was vir my so ’n voorreg om vir soveel jare die Kinderhuis-Kersprojek te kon doen, maar nou is dit tyd om die leisels aan ander te oorhandig,” sê Mariëtte Pretorius, ’n bekende prokureur in Caledon, oor dié jaarlikse Kersgeskenkprojek.

Mariëtte het 10 jaar gelede 30 Kersgeskenke by die kinderhuis in Tulbagh afgelewer. Dié projek, wat met die ondersteuning van Caledon se NG Moedergemeente gedoen word, het oor die jare so gegroei dat 143 geskenkpakkies vanjaar uitgedeel is.

Mariëtte sê sy het gevoel sy wou meer doen as om net geskenke te gaan afgee. Dié dag het toe ’n heerlike Kerspartytjie vir die kinders geword met onder meer speletjies, gesigverf, worsrolletjies, kolwyntjies en koeldrank.

Die prys van die geskenkpakke, wat tekkies, skryfbehoeftes en ander bederfies insluit, het oor die jare van R100 per pakkie na R400 gestyg, maar steeds het mense hulle harte oopgemaak en tot die projek bygedra.

Mariëtte sê sy het nog nooit nié genoeg geskenkpakkies gehad nie en mense van Caledon, Hermanus, Kaapstad en selfs Potchefstroom het al tot die pakkies bygedra.

Familie, vriende en kantoorpersoneel word ingespan om met hierdie projek te help. Mariëtte noem die helpers haar “elfies”.

“Dit was vir my wonderlik dat mense my die afgelope tien jaar aan die hand gevat en met hierdie projek ondersteun het, maar nou is dit tyd om dit aan my elfies oor te gee, wat die projek sal voortsit.

“Hoe en wat hulle gaan doen, weet ek nog nie, maar ek sal hulle gewis nog bystaan,” sê Mariëtte.

You need to be Logged In to leave a comment.