Swartberg Primêr se marimba-orkes met Jade Ahrendse (staande, links heel agter) en Theresa Plaatjies (regs agter).Foto: Mitzi Buys


Swartberg Primêr in Caledon pronk deesdae met sy eie marimba-orkes.

Hoewel die marimbas al jare gelede aangeskaf is, was daar weens verskeie omstandighede, onder meer die Covid-19-pandemie, nie juis geleenthede vir ’n marimba-orkes om op dreef te kom nie.

Theresa Plaatjies wou graag weer ’n marimba-orkes vir die skool op die been bring, en het met verskeie mense, wat by marimba-orkeste betrokke is, in verbinding getree. Leerders van laerskole van Botrivier, Hawston, Gansbaai asook Caledon het by Enlighten Education Trust van Hermanus opleiding ontvang om die marimba te leer speel.

Kort voor die aanvang van die Junie-vakansie is leerders van Swartberg Primêr vir hul eerste les na Botrivier, waar die Botrivier-marimba-orkes hulle aan die hand gevat en touwys gemaak het. Tot almal se verbasing het hulle binne ’n uur hul eerste liedjie bemeester. Dit wil gedoen wees as ’n mens in ag neem dat hulle geen vorige ondervinding van musiekinstrumente gehad het nie.

Ná slegs vier lesse het die orkes onlangs hul eerste optrede by ’n geleentheid van die Anglikaanse kerk in Hermanus gehad en op 14 Oktober hulle debuut-optrede in hul tuisdorp tydens die Working on Fire-bewusmakingsveldtog in Caledon. Hul optrede het dawerende applous ontlok, asook ’n staande toejuiging van die brandweermanne.

Plaatjies en Jade Ahrendse, wat ook by die orkes betrokke is, kan met reg trots wees op hul prestasie. Plaatjies spreek haar hartlike dank uit teenoor die Botrivier-marimba-orkes vir die hulp en bystand wat hulle ontvang het.

Die orkes is gretig om meer gereeld op te tree. Indien iemand belangstel om die orkes vir ’n optrede te bespreek, kontak Swartberg Primêr by 028 212 1027 of Theresa Plaatjies by 083 315 2724.

You need to be Logged In to leave a comment.