Die 18-jarige Mario October is gaande oor potspel en het onlangs sy Protea-kleure in swartbal-potspel verwerf Foto: Mitzi Buys


Die 18-jarige Mario October het onlangs sy Protea-kleure vir swartbal-potspel verwerf.

Hy is vir die o.23-span gekies om Suid-Afrika in dié sportsoort by die wêreldkampioenskap, wat van 8 tot 15 Oktober in Marokko plaasvind, te verteenwoordig.

October sê hy het in Maart aan die WP-uitdunne in Worcester deelgeneem, waarna hy en sy spanmaats gekies is om aan die SA kampioenskap in Johannesburg deel te neem.

“Ons het as provinsies deelgeneem, maar het eintlik as ’n ontwikkelingspan deelgeneem. Ek moes egter in die o.23-afdeling speel. Ek het so twee weke gelede gehoor ek is in die Proteaspan opgeneem.”

October is in Caledon gebore en het sy skoolloopbaan hier voltooi. Hy werk tans as leerkrag-assistent by sy alma mater, Swartberg Primêr.

“Ek het nog altyd ’n voorliefde gehad om kinders met hul skoolwerk te help, en hier kan ek dit nou werklik uitleef.”

Hy noem verder dat hy al vandat hy 13 jaar oud is, potspel speel. “Ek het geloop waar ek nie eintlik moes loop nie, maar ek het nie geloop vir verkeerde dinge nie. Ek wou net gaan pool skiet. In 2019 het ’n span my genader om vir hulle te speel, en tans speel ek vir die Deadstroke-klub.

“Ek het op skool aan elke denkbare sportsoort deelgeneem – van skaak, krieket, rugby en sokker tot kung-fu. Ek het in die koor gesing en drama gedoen. Ek is ook ’n rapper.”

Deesdae is potspel egter sy voorliefde en hy sê hy oefen elke dag vier ure tot 23:00 saans.

“Ek is baie opgewonde oor hierdie groot geleent­heid, want dit was nog altyd ’n droom om ná skool op pool te konsentreer. Ek is egter bekommerd dat ek dalk nie geld betyds sal kan bymekaarmaak om aan die wêreldkampioenskap te gaan deelneem, nie. Verskeie instansies het my al gehelp, maar dis ongelukkig nog nie genoeg om my in Marokko te kry nie.”

Lesers wat ’n bydrae wil maak om Mario se droom te bewaarheid, kan hom by 065 589 1933 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.