Die 15-jarige Matao le Roux, ’n leerder aan die Hoërskool Overberg, het gewis rede om van vreugde in die lug te spring – eintlik het hy sommer drie goeie redes om so opgewonde te wees.
Matao het op 19 Oktober by Bredasdorp se Top-10-atletiekbyeenkoms ’n rekord in hoogspring opgestel. Sy sprong van 1.98 m, wat sy persoonlike beste prestasie ewenaar, het die vorige rekord van 1.97 m van 2015 verbeter. Matao het aan Hermanus Times gesê dit was net-net hoër as die vorige rekord wat vir soveel jare gestaan het, maar nietemin ’n rekord is.
Matao is vanweë dié goeie prestasie een van die 40 jong atlete wat genooi is om as lid van die Boland-hoërskole-atletiekspan aan ’n atletiekbyeenkoms in Namibië deel te neem.
Die byeenkoms, wat deur Rural & Para Athletix Academy in samewerking met Boland-atletiekontwikkeling gereël is, vind van 16 tot 21 Desember in Swakopmund, Namibië, plaas. Matao sê hy hoop om by dié byeenkoms sy droom-mikpunt van 2 m te bereik.
Die ander groot nuus is dat Matao ’n beurs ontvang het om volgende jaar na die Hoërskool Stellenbosch te gaan. Hy sê sy ma, Maeve Jonkers, het verlede jaar reeds om die beurs aansoek gedoen en dit is hierdie jaar goedgekeur.
By dié skool sal nie net aandag aan akademie gegee word nie, maar ook aan die ontwikkeling van sy atletiekloopbaan.
Die beurs is moontlik gemaak deur Endurocad, ’n organisasie sonder winsbejag, wat hulle toespits op die atleet se ontwikkeling op persoonlike, sport en akademiese gebied.
Die bekende voormalige Olimpiese langafstandatleet Elana Meyer is die uitvoerende hoof van Endurocad.
Endurocad hou gereeld sportklinieke in verskeie dorpe waar hulle jong atlete mentor en ook op die uitkyk is vir talent.
Belowende atlete word genooi om ’n kamp by te woon waar hulle dan ook, onder meer, ’n akademiese aanlegtoets moet aflê.
Matao het onlangs een van dié kampe bygewoon en is op grond van sy prestasies gekies om die beurs te ontvang.
Matao sê: “Ek is reg vir hierdie nuwe belewenis. Ek gaan in die koshuis in Stellenbosch woon en is baie opgewonde om saam met die mentors en afrigters te werk.
“Ek moet hierdie geleentheid aangryp om my toekoms te verbeter.”
Die atletiektoer na Namibië het aansienlike kostes.
Indien iemand ’n bydrae wil gee, kontak Maeve Jonkers by 072 530 5902.