Matao ryg nog rekords in

, ,

Van hoogspring kan ‘n mens vir Matao le Roux van Caledon min vertel, want dié 16-jarige atleet, wat al sedert sy laerskooldae aan hoogspring deelneem, ryg behoorlik die medaljes in […]


Van hoogspring kan ‘n mens vir Matao le Roux van Caledon min vertel, want dié 16-jarige atleet, wat al sedert sy laerskooldae aan hoogspring deelneem, ryg behoorlik die medaljes in en het talle rekords agter sy naam. (“Matao hoog in die wolke”: Hermanus Times 17 April 2024 en “Matao mik nog hoër”: Hermanus Times 20 November 2024).

Tydens die ASA junior kampioenskap, wat van 27-29 Maart in die Groenpunt- stadion in Kaapstad gehou is, het Matao sy beste vertoning nog gelewer deur die o.18-mans met ‘n allemintige hoogte van 2.10 m te wen en sodoende die SA kampioen in die betrokke oudersdomgroep te word.

Skaars ‘n week later het Matao die afgelope Saterdag (5 April) in Bloemfontein tydens die SA hoërskolebyeenkoms die o.17-hoogspring met ‘n hoogte van 1.98m gewen – ten spyte van ‘n besering.

Aan Hermanus Times vertel Matao: “Ek is in my noppies met my sprong van 2.10 m tydens die ASA-kampioenskap. Ek het baie hard daarvoor geoefen en dit is ‘n persoonlike beste vir my. Ek het by ‘n oefensessie in Bloemfontein ‘n kuitbese- ring opgedoen, wat nogal baie seer was, maar ek het steeds hard gedruk vir ‘n eerste plek en onder die omstandighede is ek tevrede met my wenhoogte.”

Maeve Jonkers, Matao se ma, sê: “Ek is so trots op Matao. Ek het sommer begin huil toe hy die 2.10 m gespring het. Ook sy vertoning in Bloemfontein was iets om op trots te wees.”

Matao is sedert die begin van die skooljaar ‘n leerder aan die Hoërskool Stellenbosch nadat hy ‘n beurs van Endurocad, ‘n organisasie sonder winsbejag, ontvang het. Dié organisasie spits hom toe op die atleet se ontwikkeling op persoonlike, sport en akademiese gebied. Dat dit vrugte afgewerp het, is deur Matao se puik onlangse prestasies bewys.

Categorised:, ,

You need to be Logged In to leave a comment.