As dit by hoogspring kom, is daar geen keer aan Mateo le Roux nie.
Dié graad 7-leerder aan Swartberg Primêr in Caledon is in die Westelike Provinsie-atletiekspan opgeneem, wat onlangs aan die SA kampioenskap in Potchefstroom deelgeneem het.
Hy is ook Hermanus Times se sportster van die maand.
Van die 21 deelnemers aan die hoogspring vir seuns o.13, het Matao die vyfde plek behaal met ’n allemintige sprong van 1.7m.
Mateo vertel aan Hermanus Times: “Ek is glad nie teleurgesteld met my vertoning nie, want ek het dieselfde hoogte gespring as die seun wat vierde geplaas is. Dit is die eerste keer dat ek tot by die SA’s gevorder het en dit was vir my wonderlik dat ek die WP kon verteenwoordig.”
Mateo sê hy het al in graad 2 hoogspring probeer, maar eers in graad 5 ernstig daarmee begin en toe reeds tot die Boland-kampioenskap deurgedring. Hy het ook aan naellope en verspring deelgeneem, maar besluit om hom op hoogspring toe te spits.
Hoewel Mateo ook graag rugby sou wou speel, besef hy dat ’n moontlike besering sy atletiekloopbaan sal benadeel. “In my vrye tyd en ná die atletiekseisoen hou ek aan met oefen en sorg dat ek fiks bly.”
Soos die meeste ander tieners hou hy ook daarvan om TV te kyk en op sy selfoon besig te wees. Sy gunstelingkos is spaghetti bolognese en hy drink graag Coke en Mountain Dew.
Op ’n vraag oor wat hy ná skool wil doen, antwoord hy: “Ek wil soos my uncle op cruise ships gaan werk en die wêreld sien.”
Aan die einde van die onderhoud sê hy vasbeslote: “Volgende jaar wil ek ’n goue medalje wen.”
Swartberg Primêr se skoolhoof, Chris Delport, sê hy en die hele skool is baie trots op Mateo se pragtige prestasie.
Réleen Swart, Mateo se afrigter, sê: “Mateo is ’n stil, goedgemanierde kind wat elke oefening bywoon. Sy getrouheid en bereidwilligheid om te leer, werp vrugte af, want hy het soveel verbeter. Dit is wonderlik om soveel talent te sien en ek is regtig super trots op hom.” . Benoemings met ’n kort motivering oor hoekom iemand vir Hermanus Times se Sportster van die jaar-kompetisie benoem moet word, plus ’n foto, kan aan Mariëtte Strydom by editor@hermanustimes.co.za gestuur word. Anders kan benoemings by ons kantoor by Hoofstraat 34 (by die Birkenhead-gebou langs die NG kerk) afgelaai word.