‘n Matriekafskeid is seker dié geleentheid waarna alle leerders hul hele skoolloopbaan uitsien. Almal begin reeds lank voor die tyd beplan – rokke en pakke word gekoop, motors word bespreek en gaste word genooi om saam met die ouers aan huis te vier.
Weens nasionale boikotte en onluste wat in Augustus na die Wes-Kaap oorgewaai het, was dié voorreg nie vir die 1985-klas van Swartberg Sekondêr beskore nie. Hulle kon ook nie die belangrike September-eksamen aflê nie. Dié groep oudleerders het toe besluit hulle gaan eerder as om ‘n gewone 40ste reünie te hou, dit in die vorm van ‘n matriekafskeid vier.
Florence de Louw, wat dié besonderse geleentheid gereël het, sê: “Dit was ‘n heuglike gebeurtenis om skoolmaats ná 40 jaar weer te sien. Almal het heerlik gekuier en staaltjies uit ons ou skooldae is met groot nostalgie gedeel.”
Soos wat dit by ‘n regte matriekafskeid hoort, was die 35 oud-leerders van so ver as Humansdorp, Malmesbury en Paarl, almal deftig uitgevat en het die lokaal by die Caledon Casino Hotel & Spa een-een op ‘n rooi tapyt ingestap.
Lizette de Waal, die hoofmeisie van 1985, het in haar toespraak gesê: “Dit voel amper onwerklik om hier te staan – 40 jaar nadat ons by Swartberg Sekondêr gematrikuleer het. In 1985 was ons vol energie en ambisie. Nou is ons vol stories, wysheid en dalk ‘n paar kraak-knieë. Vandag staan ek hier met ‘n hart vol dankbaarheid – vir die vriendskappe wat ons gevorm het, die lesse wat ons geleer het en die herinneringe wat ons steeds bybly. Dit maak nie saak waarheen die lewe ons geneem het nie – ons het ‘n stukkie van Swartberg saamgeneem. Vanmiddag onthou ons ook diegene wat nie saam met ons hier kan wees nie – veral klasmaats en onderwysers wat ons te vroeg verlaat het. Hul gees is deel van ons storie en ons eer hulle met liefde.”
Ná die formele verrigtinge het almal spesiale gholfhempies met hul naam en ‘n logo op aangetrek en na die perseel van die ou Swartberg Sekondêre skool gegaan.
Theresa Plaatjies sê: “Baie van die oudleerders was verbaas om te sien ‘n groot gedeelte van die ou skool is gesloop, maar ander kon in die deel wat nog staan gaan kyk na waar hul klaskamers was. Daarna is ons na die nuwe perseel, waar ons ‘n gebed vir genade gedoen het vir diegene wat moes terugreis. Die hele geleentheid was absoluut wonderlik en ook nostalgies. Ek het my slap gelag vir sommige van die staaltjies wat vertel is – baie waarvan ek lankal reeds vergeet het.”
Die groep was dit eens dat dit ‘n wonderlike idee was om hul 40ste reünie in die vorm van ‘n matriekafskeid te vier, en soos dit hoort, het baie ook ‘n spesiale fotosessie by hul huis gehad voordat hulle na die lokaal gegaan het.


