Die 2025- nasionale seniorsertifikaat-eksamen begin Dinsdag 21 Oktober en eindig eers Woensdag 26 November.
“Matriekonderwysers, assistente en amptenare het hard gewerk om ons kandidate vir die laaste hindernis van hul skoolloopbaan voor te berei,” sê David Maynier, die Wes-Kaapse minister van onderwys.
“Ons jaarlikse matriekondersteuningsboekie is by skole afgelewer, wat vorige matriekvraestelle, administratiewe besonderhede soos die eksamenrooster en slaagvereistes, studiewenke en raad oor naskoolse studies bevat.
“Ons het ook ‘n Wenke vir Sukses-boekie, wat gedetailleerde raad bied oor hoe om doeltreffend te studeer, verskaf.”
Volgens Maynier is die aanloop tot die matriekeksamen ‘n besonder stresvolle tydperk vir kandidate en hy moedig alle leerders aan wat sukkel, of mense wat bekommerd is oor ‘n leerder se geestesgesondheid, om die WKOD te nader. Skoolpersoneel kan die tolvrye Veilige Skole-hulplyn by 0800 45 46 47 skakel.
Maynier doen ‘n beroep op die publiek om voorkeur aan matriekkandidate te gee deur hulle nie in die aanloop tot en tydens die eksamen met betogings in en om skole te ontwrig nie.
• Besoek westerncape.gov.za/education/matric-support vir ‘n groot verskeidenheid e-leerhulpbronne, soos inhoudsopsommings en studiegidse.





