Party gebeurtenisse staan in jou skoolloopbaan uit – van jou eerste dag op die skoolbanke tot jou eerste interskole en jou matriekafskeid.
Maar vir die matrieks van die Hoërskool Hermanus is dit sekerlik die laaste dag van hul skoolloopbaan voordat hulle met hul matriekeindeksamen begin, want op dié dag spring elke matriekleerder – met skoolklere en al – by Piet se Klip in die see.
“Dit is wat ons skool so uniek maak. Ander skole lui ‘n klok of hul matrieks spring in ‘n swembad, maar ons spring in die see. Ons sien al van ons laerskooldae af daarna uit,” het een van die matrieks gesê. Volgens haar is dit nogal senutergend, “maar iets wat jy net moet doen”.
“Die meeste van ons is maar bang, maar gelukkig is daar baie ondersteuning en ons praat mekaar moed in. Dit bly iets lekkers om te doen.”
Volgens die skool is dit nou al ‘n jare lange tradisie dat die matrieks by Piet se Klip afspring, maar vanjaar het hulle weens onstuimige waters by die Marine se getyswembad ingespring. Dié besondere gebeurtenis het op 16 Oktober plaasgevind.


