Mediclinic Hermanus het onlangs van krag tot krag gegaan aangesien gesinne die afgelope tyd nie net uitgebrei het nie, maar ook van ander provinsies en selfs dorpe na die mooi Hermanus verhuis het.
Geïnspireer deur die nuwe toevoegings tot gesinne is die Mediclinic Hermanus trots op sy nuwe verbeterings binne die kraamafdeling en opgraderings binne die pediatriese afdeling.
“Hierdie veranderinge stel ons in staat om werklik aan die behoeftes van ons gemeenskap te voldoen en daarom wil ons, ons opgegradeerde geriewe aan die Hermanus-inwoners bekendstel,” sê Gerhard Joubert, bestuurder van Mediclinic Hermanus.
“Ons is ook opgewonde oor ons nuwe gespesialisserde neonatale eenheid binne die kraamafdeling. Dié nuwe eenheid stel ons in staat om die Overberg-gemeenskap beter te dien deur die ouers te verseker dat met die vroeë aankoms van hul babas, die nuweling die nodige en beste sorg sal hê.” Die pediatriese afdeling sal ook volgens Joubert uitgebrei word met ‘n prosedurekamer sowel as speelkamer.
“Een ouer word steeds toegelaat om by die pasiënt te bly om te verseker dat hulle nie te vreemd voel nie. Ons kindervriendelike dekor beteken dat die jong pasiënte nou in ‘n positiewe omgewing met vriendelike hospitaalpersoneel kan herstel. Die temas is gegrond op die natuur. Die pediatriese afdeling is versier met geverfde silhoeëtte van klein wesens wat die kinders sal herken. Die neonatale eenheid is versier met silhoeëtte van bome wat groei en krag simboliseer,” sê Joubert.