Altesaam meer as 800 jaar diens aan die publiek is op 21 November gevier toe personeel van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand in die Overberg langsdiens-toekennings ontvang het.
Dit was ’n oggend van waardering, lag en selfs ’n dansie op pad na die verhoog toe personeel erkenning ontvang het vir diens van onderskeidelik 10, 20, 30 en 40 jaar.
Die twee kandidate wat vir 40 jaar diens vereer is, suster Maria Bailey en suster Marlene Langeveldt, se vreugde was ooglopend.
“My 43 jaar in diens van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand was ’n lang pad en daar was opdraandes, maar met harde werk, toewyding en natuurlik my liefde vir verpleging kon ek dit bereik,” sê Langeveldt. Sy het ’n groot gedeelte van haar loopbaan in verpleging by die Swellendam-hospitaal deurgebring en is tans ’n koördineerder van kliniese dienste vir die Swellendam-subdistrik.
Bestuurspanne het die 60 personeellede wat sertifikate ontvang het, geprys vir hul harde werk en dat hulle bygedra het tot die welstand van gemeenskappe.
“Hierdie is julle dag – ’n dag waarin ons julle vier,” het die direkteur van die Overberg-distrik vir die departement, Ronel Bezuidenhout, by die geleentheid gesê.
Op sy beurt het dr. Francois Fourie, mediese bestuurder van Overstrand-subdistrik, personeel herinner dat sukses en groei wat plaasgevind het, dikwels eers ná jare sigbaar is. “Dan gaan mense vir jou sê jy was ‘gelukkig’, maar dis nie die geval die. Dis deur dag in en dag uit alles in te sit dat sukses en uitmuntende groei plaasvind.”