Die munisipaliteite vra dat inwoners onwettige besetters dadelik aanmeld.

Dit raak ‘n probleem – nie net in Hermanus nie, maar oor die hele Overberg heen – en volgens owerhede moet inwoners onwettige besetters summier aanmeld.

Die Overstrand-munisipaliteit (OM) het onlangs ‘n persverklaring uitgereik waarin die probleem bespreek is. “Die OM vra inwoners wat gereeld op die kuspaadjies beweeg om enige tekens van onwettige besetters aan te meld. As jy slaaptoerusting soos kussings, slaapsakke, klere en ander beskuttingsartikels op die kuspaaie en stormwaterpype opmerk, meld dit asseblief so gou as moontlik aan,” het die munisipale bestuurder, Dean O’ Neill, gesê.

Onwettige grondbesetters blyk ‘n landwye probleem te wees en ingevolge Artikel 26 (1) van die Grondwet het elkeen die reg op toegang to voldoende behuising.

Volgens ‘n kenner op die gebied moet die staat redelike, wetgewende en ander maatreëls tref om die reg binne sy hulpbronne’n werklikheid te maak. “Dus moet die staat ‘n plan maak met die toenemende behuisingsprobleem in die Overberg,” het hy benadruk. Maar volgens hom is die staat ook onder geweldige druk aangesien nie alle staatsgrond vir behuising gebruik kan word nie en voorsiening moet ook gemaak word vir skole, fabrieke, geloofsentrums en sakeondernemings.

“Saam met onwettige grondbesetters kom ‘n toename in misdaad en vandalisme,” het hy gesê.

‘n Woordvoerder van ‘n veiligheidsmaatskappy in Grabouw het bevestig dat ‘n styging in misdaad soos inbrake, diefstal en vandalisme, waargeneem word as grond onwettig beset word. “ ’n Ander probleem wat hand aan hand saam met onwettige grondbesetting loop, is onwettige koppelings. Onwettige water- en elektrisiteitskoppelings kan skade aan die bestaande infrastruktuur veroorsaak,” het hy gesê.

Ander probleme wat onwettige grondbesetters kan veroorsaak, is die verlies aan eiendomswaarde, waar eiendomme se waarde daal.

Onwettige grondbesetters het Schulphoek in Hermanus in Maart 2018 beset aangesien hulle moeg was om in haglike omstandighede te bly en dat Schulphoek volgens bronne oorspronklik vir laekostebehuising beplan is.

Later die jaar het die grondeienaars van Schulphoek die grond, wat beplan was vir luukse ontwikkeling, aan die munisipaliteit verkoop. Volgens Jane Day, ‘n eiendomsagent in Hermanus wat al langer as 30 jaar in die bedryf is, het die waarde van eiendomme in plekke soos Sandbaai drasties afgeneem.

“Beach Club is ‘n voorbeeld – die eiendomswaardes daar het drasties afgeneem,” het sy gesê. Volgens haar is ‘n groter probleem waardeur die Hermanus-inwoners in die gesig gestaar word die feit dat daar geen behuising vir staatspensioentrekkers is nie. “Die munisipaliteit maak nie voorsiening vir bejaardes nie – kyk maar na MacMillan House in Hermanus. Die bejaardes is almal op staatspensioen en noudat MacMillan House verkoop is, het die bejaardes tot einde Desember om ‘n ander heenkome te kry. Dit is onmenslik. Van daardie inwoners het geen familie om op terug te val nie,” het sy gesê.

• Meld enige onwettige besetters in die Overstrand by 028 313 8996 aan of bel die polisie by 028 313 5300. Vir die Theewaterskloof- munisipale gebied kan mense 0800 214 730 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article