Gemoedere by die Overstrand-munisipaliteit (OM) het Maandagmiddag hoog geloop toe 625 belastingbetalers opgeruk het om hul misnoeë uit te spreek oor die probleme rakende die Hermanus Country Market (HCM) en die moontlike sluiting van dié gewilde mark.
Inwoners en belanghebbende partye het al van vroeg af na die OM se ouditorium gestroom om antwoorde te kry oor die beweringe dat die HCM nie meer kan handel dryf nie. Nie net was die ouditorium volgepak nie, maar mense het ook buite saamgedrom om die vergadering by te woon. Luidsprekers is selfs aangebring vir dié wat buite was sodat hulle ook aan die vergadering kon deelneem.
Die OM het dié vergadering Maandag belê om onsekerhede uit die weg te ruim. Die vergadering, wat vir 16:00 geskeduleer is, is kort ná sy aanvang amper ontwrig toe die munisipale bestuurder, Dean O’ Neill, versoek het dat geen video-opnames gemaak word nie. Hy het selfs wetstoepassers geroep om dié wat ’n video-opname maak, te verwyder. Dié teenwoordig het hul stemme dik gemaak en gesê dis ’n openbare vergadering en hulle mag sulke opnames maak.
Volgens die belastingbetalers is die HCM al só deel van Hermanus en het die mark twee jaar gelede die beste markie-afdeling in KFM se “Best of the Cape”-kompetisie gewen. Dit was verlede jaar weer ’n finalis. Nie net verskaf die mark werk aan 1 200 mense nie, maar dit dien ook as ’n groot trekpleister vir toeriste. Die mark staar nou ’n onsekere en donker toekoms in die gesig nadat dit aan die lig gekom het dat die HCM volgens die OM onwettig handel dryf op die perseel van die Hermanus-sportklub aangesien hul strukture nie aan die munisipale regulasies voldoen nie, daar geen brandveiligheidsertifikate is nie, daar geen ontruimingsplan is nie en ook ’n kopseer vir versekering is.
Die OM het dit duidelik gestel dat hy geen huurooreenkoms met die HCM het nie, maar net met die Hermanus-sportklub, en die ooreenkoms tussen die OM en die Hermanus-sportklub behels net sportgeriewe en ’n rekreasiesentrum kan op die grond aangebring word. Die huurooreenkoms tussen die OM en Hermanus-sportklub is vir 45 jaar. Die munisipaliteit het sy saak vir langer as ’n uur gestel voordat belastingbetalers hul griewe kon lug.
Van die begin af het die burgemeester van die OM, dr. Annelie Rabie, dit duidelik gestel dat sy nog nooit gesê het die HCM moet sluit nie. Volgens dokumentasie wat voorgelê is, kom die probleme al vir 11 jaar aan, en ’n duidelike tydlyn is deur die OM gegee oor die probleme van en oplossings vir die HCM. Volgens die OM moet ’n formele aansoek met ’n motivering oor waarom hulle wil handel dryf, aan die OM gegee word en die aansoek moet dan deur die regte prosesse gaan. Daar is ook beweringe dat daar geen huurooreenkoms tussen die mark en die sportklub is nie, maar volgens die HCM se bestuur het hulle al verskeie kere met die OM probeer hande vat om ’n huurkontrak te verkry.
Michael Bayer, die nuwe eienaar van die HCM, het in sy spreekbeurt dit duidelik gestel dat daar twee en selfs drie of vier kante aan die storie is. Volgens hom is ’n ooreenkoms in Februarie 2021 tussen die sportklub en die HCM gesluit oor die toekoms van die mark. Die OM het ook sy gewig agter die saak gegooi en gesê hy sal die HCM bystaan om sy strukture op peil te kry. Daar is ook beweringe dat die OM R400 000 sal toestaan om die HCM se strukture volgens wetgewing op te gradeer.
Rabie het bevestig dat hulle weer oor drie maande bymekaar moet kom om te kyk hoe die planne vorder en of daar oplossings gevind kan word.
Een voorstel was dat ’n taakspan op die been gebring moet word en uit belastingbetalers en OM-beamptes moet bestaan om planne te beraam oor die toekoms van die HCM.Die burgemeester het ook voorgeneem dat die HCM wel in die toekoms kan handel dryf, maar dan moet hulle aan die vereistes voldoen. “Ons sal verteenwoordigers van die mark en die sportklub kry om almal saam bymekaar te kom sodat ons ’n plan kan opstel. My probleem is – om fopnuus te versprei, is verkeerd; ons moet mekaar respekteer en hande vat om die probleem op te los,” het Rabie afgesluit.
* Die HCM is in 2010 deur Liza van Copenhagen op die been gebring. In 2021 het Michael en Elaine Bayer die HCM oorgeneem en daar is elke naweek 95 stalletjies wat daar handel dryf. Volgens Bayer besoek gemiddeld 3 000 mense die mark elke naweek en is dit een van die grootste toeristeaantreklikhede in die dorp.