Die humanitêre noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers het Vrydag kos en komberse vir Grabouw-inwoners uitgedeel.


Dit is in tye van nood dat mense saamstaan, en dis presies wat in die Overberg-distrik gesien is nadat reën die afgelope week verwoesting gesaai het.

Nie net is inwoners van Grabouw, Villiersdorp, Botrivier en Kleinmond dae lank sonder enige elektrisiteit gelaat nie, maar huise moes ontruim word en mense wat afhanklik is van elektrisiteit, soos byvoorbeeld vir suurstof, se nood was baie groot.

Inwoners het hulle tot Facebook gewend vir hulp terwyl gemeenskapsaktiviste letterlik kniediep in die water was om mense te help. Munisipaliteite het ook hul gemeenskapsale oopgemaak vir mense wat deur die oorstromings geraak is.

Die humanitêre noodlenigings­organisasie Gift of the Givers het Vrydag na Grabouw uitgereik om dié wat in nood is, te help. “Afgesien van die meer as 30 inwoners wat tans in gemeenskapsale gehuisves word, is nog 300 huishoudings deur die oorstromings geraak. Gift of the Givers het gelukkig kospakkies en komberse na dié in nood uitgedeel,” het ’n woordvoerder van die Theewaterskloof-munisipaliteit gesê. “Ons wil hulle en al die ander belanghebbende partye wat die nood verlig, vir hul hulp bedank.”

Die netbalklub in Grabouw, The Future Stars, is ook deur die reën geraak en die klub, wat vanjaar vir die eerste keer aan die super-liga deelneem, se doelpale het met die reën in die slag gebly. Soos in ander gevalle het hulle op Facebook uitgereik, en iemand het dadelik op die klub se noodroep gereageer.

In nog ’n voorval in Grabouw het iemand dringend elektrisiteit vir sy suurstofmasjien nodig gehad. Die onderburgemeester van die TWK-munisipaliteit, John Michels – ook ’n inwoner van Grabouw – het op sy Facebookblad gevra of iemand kan help.

Die onselfsugtige optrede van Cornelius Lukas, ook van Grabouw, het die inwoner se lewe gered. “Cornelius Lukas – baie, baie dankie. Mag God jou ryklik seën.”

Lukas woon ook in die omgewing in Melrose waar die krag af is. “Hy het ook nie krag nie, maar het nie twee keer gedink om sy kragopwekker aan die man wat 24 uur suurstof moet gebruik, te leen nie. Al versoek van hom was – en ek haal aan – ‘kan ek dit net môre gou terugkry vir die Springbok-wedstryd, dan kan julle dit daarna weer kom haal’,” het Michels op sy Facebookblad geskryf.

Grabouw Spar en Victoria Fisheries het uit hul pad gegaan om die Eskom-tegnici te ondersteun wat die ekstra myl gestap het om die elektrisiteitsprobleem in Grabouw op te los. Koffie, kos en onder-steuning deur Arlene van Zyl, voorsitter van die Grabouw- en Elgin-belastingbeta-lersvereniging, het ook gehelp sodat Eskom-tegnici hul werk kon doen.

You need to be Logged In to leave a comment.