Michelle meer as net ’n bestuurder

Vrouerugby in die Overberg het die afgelope paar jaar aansienlik gegroei. Bianca Du Plessis het met Michelle Bosch daaroor gesels. Bosch is ook die spanbestuurder van Boland Vrouerugby.


Sy is deesdae die spanbestuurder van Boland-vrouerugby en voer haar pligte trots uit. Michelle Bosch van Hermanus vertel aan Bianca Du Plessis meer oor waar haar belangstelling vandaan gekom het:Wanneer en hoe het jy by vrouerugby betrokke geraak?My lewensmaat, Thomas Chowles, het so vyf jaar gelede by Boland-vrouerugby betrokke geraak en is as hul hoofafrigter aangestel. Ek het aan die begin saam met hom as hul nie-amptelike fotograaf na die wedstryde toe te gaan. Later het hy my gevra om spanlyste ens. te tik en reëlings vir wegwedstryde te help tref. Ek het halsoorkop verlief geraak op die spelers, hul persoonlikhede en wat hulle dryf. Vir my was dit meer die sielkundige kant waarmee ek kon help as wat tussen die vier lyne gebeur. Die span het my as hul “moeder” aanvaar en vyf jaar later is ek steeds hul “Manny Mamma”.Wat behels dit alles om die Boland-vrouerugbyspan te bestuur? Ek het die afgelope vyf jaar maar agter die skerms bestuurder gespeel, maar is amptelik in 2021 as die Covid-bestuurder aangestel. Aangesien ek in gesondheidsorg werk en jonger as 60 is, was dit die maklikste opsie. Ek is twee weke voor ons eerste ligawedstryd as logistieke- en spanbestuurder aangestel. As Covid-, logistieke- en spanbestuurder moes ek verseker dat al die Covid-19- protokolreëls te alle tye gehandhaaf word. Ek het die meisies touwys gemaak van al die Covid-regulasies en hoe om hulself te beskerm. Ons moes ook vir 11 weke elke Dinsdag ’n Covid-toets ondergaan. Dit het beteken ek moes die paramedikus help met die toetse, en as iemand se toets positief was, moes ek dadelik SA Rugby in kennis stel en toesien dat die nodige maatreëls soos afsondering daargestel word. Ons was geseënd dat ons as span Covid tot ons voorlaaste wedstryd vrygespring het! Ek moes vervoerreëlings na en van oefensessies vir spelers tref, die veld bespreek en alles reg hê. Ek moet ook toesien dat alle dokumentasie in orde is. As ons wegwedstryde het, reël ek die verblyf, vervoer en vlugte en moet ek verseker dat ons spelers in ’n “bubble” weg van ander mense is. Ek moet ook borge soek, na die span se uitrustings omsien en elke week die spanlys op die SA Rugby-webtuiste laai. Die reëlings is eindeloos! Ons oefen Dinsdae en Donderdae by die Wellington-stadion. Ek werk dan tot 16:00 en laai die assistentafrigter en van die spelers op om oefening by te woon. Tussen alles deur is ek ook koshuismoeder, kok, sosiale werker, mamma ens. Wat is van die grootste uitdagings wat vrouerugby in die gesig staar? Vervoer! Gewis vervoer na en van oefensessies aangesien ons span wyd oor die Overberg-gebied verspreid is. Ons hoofafrigter laai spelers in Hermanus, Grabouw, Somerset-Wes, Khayelitsha, Milnerton, Blackheath en Atlantis op. Borge is ook nodig. Ek glo enige vrouespan het ’n titel-borg nodig om die span te versterk, maar met die pandemie is dit ’n tameletjie.Vrouerugby in die Overberg het die afgelope paar jaar aansienlik gegroei. Wat sou jy sê is die rede daarvoor? Goeie voetwerk en kommunikasie tussen die rolspelers in die Overberg-streek. Harde werk en gereelde rugby-klinieke het aansienlik gehelp om vrouerugby in ons omgewing te bevorder. Skole het begin inkoop en ons het fantastiese onderwysers wat die meisies ondersteun en aanspoor om van die platform gebruik te maak. Rugby is ’n fantastiese platform om jong meisies roetine en dissipline te leer. Dit hou hulle uit die kwaad. Ons het al gehoor van die spelers doen soveel beter op skool vandat hulle rugby speel. Boland se vrouerugbyspanne het die afgelope jaar verskeie suksesse bereik. Wat was vir jou van die hoogtepunte? Ons het in ’n baie kort tydjie van krag tot krag gegaan. Hoewel ons in 2020 glad nie rugby gespeel het nie, het ons span steeds met mekaar in verbinding gebly. My hoogtepunte is gewis die wedstryd teen die Lions, wat ons in September 2018 gewen het, want dit was ’n promosie-litigasie vir ons. Dit het ons van die B-liga na A-liga gestuur. Ek het daardie dag op die veld op my knieë gesit en huil! Die Boland-vroue het die oorwinning verdien. Van ons wedstryde is ook op SuperSport uitgesaai. My gunsteling-uitsending was natuurlik toe ons die Blou Bulle op hul tuisveld 21-0 kafgedraf het. Nog ’n hoogtepunt was toe van ons spelers genooi is vir ’n onderhoud op die televisieprogram Expresso. Dit was amazing en ’n groot eer om ons span voor te stel en mense bewus te maak van wie Boland-vroue is! Het jy enige doelwitte wat jy vir jouself as spanbestuur­der en ook vir jou spanlede gestel het? Om die liga Covid-vry deur te kom, was ons grootste doelwit. Ons het ’n paar noue ontkomings gehad soos toe ons midde die spike in Johannesburg teen die Blou Bulle gespeel het. Die beplan­ning rakende ons vervoer was ingewikkeld. Ons het in ’n hotel regoor die stadion gebly en die hele gang vir onsself gehad. Ná die wedstryd, op pad lughawe toe, het ons die nuus gekry dat twee van die Blou Bul-spelers Covid-positief was. Ons hele span moes dadelik in afsondering gaan. Ek het my suster gebel om my 11-jarige dogter uit die huis te kry voordat ons tuiskom. Ons moes die wedstryd per speler ontleed om te verseker dat die direkte kontak per speler minder was as 15 minute vir die hele 80 minute van die wedstryd. Ek dink die spelers en bestuur se veiligheid speel ’n geweldige groot rol in enige reëlings wat getref word en dit moet te alle tye voorkeur geniet. My grootste doelwit is om die spelers en bestuur so goed ek kan te ondersteun en ’n positiewe invloed in die vroue se lewe te wees. Die span se doelwit is om die volgende liga te wen. My en Thomas se doelwit is om ’n rugby-akademie te stig waar ons spelers kan huisves en ’n ambag kan laat leer. Intussen het ons tans drie spelers by ons aan huis, van wie twee onder­wys studeer en die ander as bootbouer opgelei word.Waarna kan ondersteuners van vrouerugby in die komende rugbyseisoen uitsien? Ons is trots om te kan sê al ons wedstryde sal in 2022 op SuperSport uitgesaai word! Ons hoop om ons toe­skouers weer self langs die veld te hê, maar gelukkig kan hulle ons Saterdae op die televisie te sien kry. Ons is ook tans besig om Walkerbay-rugbyklub in Hermanus te stig. Ons wil klubs vanaf Wellington tot Gansbaai en selfs verder stig sodat die spelers geïdentifiseer en dalk in ’n Boland-span opgeneem kan word. Dis al manier hoe vrouerugby verder sal groei: As klubs in alle streke bestaan waarheen meisies kan gaan om te bepaal of hulle van die spel hou. Daar kan hulle leer en groei.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.