Mieke wys haar krag

Sy is lank en lenig en gewis baie sportief, maar dit is haar gekose sportsoort wat mense verbaas. Netbal? Hoogspring? Nee, haar hande vol eelte is die leidraad.


Sy is lank en lenig en gewis baie sportief, maar dit is haar gekose sportsoort wat mense verbaas. Netbal? Hoogspring? Nee, haar hande vol eelte is die leidraad.

Mieke Beukes van die Klipheuwel-plaas buite Caledon is onlangs opgeneem in die Protea- junior toutrekspan vir meisies (480 kg), wat van 12-22 September aan die wêreldkampioenskap in Nederland gaan deelneem.

Hermanus Times het met die 16-jarige Mieke, ’n leerder aan die HTS Drostdy in Worcester, gesels. “My pa het toutrek as ’n sport beoefen en ek wou dit ook graag doen. Dit is hoekom ek na die HTS Drostdy is, want hulle is bekend vir toutrek.

“Dit is ’n sport met baie streng dissipline. Dit is ’n spansport; dit gaan nie oor jou nie – dit gaan oor al agt van julle aan die tou. Dit is soos ’n tweede familie wat jy het, en daar is geen tyd of plek vir voorgee nie.”

Mieke het reeds in gr. 8 met toutrek begin. Sy sê dit was soms so moeilik dat sy gevoel het sy kan nie die volgende dag teruggaan nie, maar haar uithouvermoë het vrugte afgewerp en nou gaan sy as ’n Protea aan die wêreldkampioenskap deelneem.

“Dit is ’n sport waarin jy baie fiks moet wees – nie net fisiek nie, maar ook geestelik. Party trekke hou tot vyf minute aan. Jou hande moet ook toufiks wees, want ons trek met kaal hande; geen handskoene word toegelaat nie. Jy moet ook leer om te luister en om te kyk. Ek trek in die derde posisie aan die tou en kan nie die ander span sien nie. Soms raas dit baie by kompetisies. Dis wanneer jy leer om te luister en om te kyk na die afrigter en die skeidsregter na wat hulle met die hande beduie.”

Mieke sê sy sien geweldig uit na die wêreldkampioenskap, veral om toutrek as ’n internasionale sport te beleef.

Mieke is uit en uit ’n buitemens wat lief is vir die plaaslewe. Vakansies sal sy veel eerder tyd saam met haar pa op die plaas deurbring en help om met die skaap te werk, as om huistake te verrig. Sy is nog nie heeltemal seker wat sy ná skool wil doen nie, maar op die oomblik staan haar kop in ’n landbourigting, dalk BScAgric by Stellenbosch.

Pieter Beukes, Mieke se pa, sê: “Ek is baie trots op haar omdat dit my sport was toe ek op Drostdy was. Ek kan nie beskryf hoe dit vir ’n ouer voel as jou kind as ’n Protea gekroon word nie. Dit was ’n baie groot oomblik.”

Spanlede moet self alle kostes verbonde aan die kompetisie dek. Omdat Mieke in Worcester skoolgaan, is dit moeiliker om plaaslike borgskappe te kry. Hulle beplan om op 20 Mei ’n skuurdans op die plaas te hou om geld in te samel. Vir nog inligting, bel Pieter by 083 355 8807.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.