Die ondersoekbeampte in die saak van die moord op die oudonderwyser van Bredasdorp, wat verlede week dood is, het Maandag in Shaun Swart se bortogaansoek getuig dat dié 18-jarige nie met die moord verbind word nie.
Eric Ntabazalila, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se provinsiale woordvoerder, het berig die ondersoekbeampte het getuig dat Swart (18) slegs met die saak verbind is deur die feit dat hy ‘n rygeleentheid met sy 16-jarige medebeskuldigde in die slagoffer se voertuig geneem het.
Die twee tieners is aangekeer nadat lede van die gemeenskap aangemeld het dat hulle gesien is waar hulle met Sammy Cloete, ‘n geliefde oudonderwyser van die dorp, se motor gery het. Volgens Ntabazalila het die ondersoekbeampte getuig dat Swart slegs met die saak verbind is nadat die 16-jarige volgens berigte met die oorledene se voertuig by Swart se huis opgedaag het.
“Swart het slegs ‘n rygeleentheid (joyride) saam met die 16-jarige geneem. Die ondersoekbeampte het verder getuig dat Swart nie by die moord betrokke was nie,” het Ntabazalila verduidelik.
Swart se borgtogaansoek is Maandag in die Bredasdorp-landdroshof aangehoor. Die 16-jarige het egter nie om borgtog aansoek gedoen nie. Volgens Ntabazalila is Swart op waarskuwing vrygelaat en die saak is vir verdere ondersoek tot 30 Julie uitgestel. Die hof het ook beslis dat Swart by ‘n alternatiewe adres in Struisbaai moet gaan woon. “Die minderjarige beskuldigde bly in aanhouding in ‘n fasiliteit gepas vir jeugdiges in konflik met die gereg,” sê Ntabazalila.
Die polisie het bevestig dat die 82-jarige Cloete, wat alleen gewoon het, se liggaam verlede Saterdag (12 Julie) omstreeks 15:45 met een steekwond aan die linkerkant van sy nek by sy huis in Jakarandastraat, Bredasdorp, ontdek is.
Luitenant-kolonel Anneke Durand, die bevelvoerder van die Bredasdorp-polisie, het bevestig geen teken van gedwonge toegang was sigbaar nie. Die twee tieners het Maandag 14 Julie die eerste verskyning in die Bredasdorp-landdroshof verskyn. ‘n Saak van moord, huisbraak en motordiefstal word ondersoek.
Cloete, wat voor sy aftrede ‘n houtwerkonderwyser by Albert Myburgh Sekondêr was, word beskryf as ‘n geliefde onderwyser wat ook ‘n mentor, vaderfiguur en gemeenskapsleier was. Hy het onder meer ook in Elim en Genadendal in die Overberg skoolgehou.
Dié geliefde oudonderwyser se moord en die feit dat twee tieners in verband daarmee in hegtenis geneem is, het die gemeenskap soos ‘n skokgolf getref. Inwoners van die dorp het ook hul kommer uitgespreek oor ‘n verlate huis reg langs die vermoorde oudonderwyser se woning en wat volgens talle ‘n “broeiplek vir onheil” is.
Lana O’Neill van Heavenly Promise, wat ‘n plek van veiligheid bedryf vir vroue en kinders wat die slagoffer van geslagsgebaseerde sowel as huishoudelike geweld is, het in ‘n plasing op sosiale media genoem dat sy reeds talle kere die polisie ontbied het rakende euwels wat by dié verlate huis gebeur. “Die huis is afgebreek – tot [by] die dak-teëls en is nou ‘n tikhuis. Ek weet, want oor die jare het ek baie kere hier teen 23:00 die polisie gebel,” het sy geskryf.
Dit is nie die eerste keer dat ‘n minderjarige in dié dorp op aanklag van moord agter tralies beland nie – die polisie het in Mei ook ‘n 16-jarige jeugdige saam met sy ouer broer in hegtenis geneem (“Twee broers agter tralies”, Hermanus Times, 21 Mei 2025) in verband met twee gru-moorde. Die broers het na bewering ‘n bejaarde man en ‘n 20-jarige man binne 10 minute van mekaar koelbloedig doodgesteek.

• In ‘n afsonderlike voorval in die Overberg verskyn ‘n 18-jarige seun vandag (Woensdag 23 Julie) in die Caledon-hof in verband met Deveney Nel se grusame moord in Augustus 2024 in Caledon.
Dié moord het internasionaal opslae gemaak veral nadat dit bekend geword het dat die verdagte, wat toe slegs 17 jaar oud was, vir die moord in hegtenis geneem is. Die datum vir sy verhoor in die Wes-Kaapse hooggeregshof sal na verwagting vandag aangekondig word.
Die Kaap Agulhas-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Raymond Ross, het gesê die feit dat al meer jong mans vir grusame moorde in hegtenis geneem word, is “kommerwekkend”. “Die eerste twee moorde was vermoedelik bendeverwant en het na bewering te doene gehad met bende-inisiasie. Bendegeweld is iets wat al meer – nie net in Kaap Agulhas nie, maar ook ander landelike gebiede – kop uitsteek. Baie van die misdaad gaan ook gepaard met dwelmgebruik.”
Die moeilike sosiaal-ekonomiese probleme waarin baie jeugdiges hulle bevind, het Ross gesê, speel ook ‘n baie groot rol in die toenemende aantal jeugdiges wat by bendes, misdaad en alkoholmisbruik en dwelmgebruik betrokke raak. Die KAM-burgemeester het egter beklemtoon dat alle rolspelers – plaaslike ondernemings, gemeenskapsorganisasies, kerke en lede van die publiek – se betrokkenheid by sulke programme noodsaaklik is.
“Dit baat nie die munisipaliteit begin talle projekte, maar die gemeenskap raak nie daarby betrokke nie,” het Ross gesê.
Durand het dit beaam en bygevoeg: “As gemeenskap moet ons saamstaan, mekaar ondersteun en aktief betrokke wees by oplossings, soos om verdagte aktiwiteite dadelik aan te meld en deel te word van buurtwagte en straatkomitees om groter sigbaarheid en samewerking te bevorder.”




You must be logged in to post a comment.