Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, het onlangs Akkedisberg-boerdery besoek. By hom is Mariëtte Moos.


Akkedisberg-boerdery by Raka-wyne naby Stanford het bewys dat grondhervorming suksesvol kan wees.

Die suksesverhaal van die Akkedisberg Workers Trust het 20 jaar gelede begin toe die werknemers ’n 30-jaar-huurkontrak van 20 ha met die Dryer-familie van Raka-wyne aangegaan en Akkedisberg-boer­dery Edms. (Bpk.) gestig het.

Die begunstigdes het dadelik verskillende kultivars op 16 ha aangeplant en die Southern Treasures Pinotage 2021 met passie en geloof gemaak.

Nou, omtrent 10 jaar later, pronk Akkedisberg-boerdery nie net met sy eie wyne nie, maar ook met tevrede aandeelhouers.

Volgens Chrystal Moses, die direkteur van die Workers Trust, is almal wat by die projek betrokke is baie hardwerkend.

“Ons doelwit is om die trotse eienaars van topwyne te wees. Om die Southern Treasurers Pinotage 2021 te kon bekend stel en dan nog dubbelgoud by die South African National Wine Challenge 2023 te kon wen, was maar net die begin van die suksesverhaal. Ons gaan nog baie bereik,” het sy gesê.

Akkedisberg-boerdery is ook onlangs verras met ’n besoek van die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer.

Meyer het sy tevredenheid uitgespreek terwyl hy deur die wingerde van Akkedisberg-boerdery gestap het.

“Vir grondhervorming om suksesvol te wees, het navorsing bewys die betrokke partye moet seker kan wees van grondsekerheid, toegang tot kapitaal hê, passievol wees oor die projek, hardwerkend wees en ook mentors hê wat hulle in die regte rigting lei – en dit is alles wat Akkedisberg-boerdery van die Dryer-familie ontvang het.

“Die Wes-Kaapse departement van landbou het ook sy steun aan die betrokke partye van Akkedisberg-boerdery bewys en ’n bydrae gemaak tot besproeiing en produksie-insette. ’n Trekker, bakkie en implemente is ook aan hulle geskenk,” het Meyer bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.