Inwoners soek na die vermiste Murcia Kock.
‘n Groep inwoners het op Dinsdag 8 Julie op die plek waar Murcia Kock se klere gevind is gebid, voordat hulle al langs die rivier af na haar gesoek het.

Waar is Murcia? Familie en vriende van Murcia Kock (23) van Avian Park in Worcester is naarstig­lik op soek na haar nadat sy al twee weke lank vermis is. Hulle vrees vir die ergste.

Die man met wie sy glo in ‘n verhouding was, is in hegtenis geneem en sal Vrydag 11 Julie in die Worcester-hof verskyn, het AO Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie bevestig.

Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur en leier van die Patriotic Alliance het Dinsdagaand (8 Julie) ‘n “memorandum” op Facebook aan die Worcester-polisie gestuur oor hul hantering van die saak. Hy het gesê die gemeenskap is gefrustreerd met die ondersoek en vra dat snuffelhonde en polisieduikers betrokke raak by die soektog.

“Dis bykans twee weke sedert sy vermis is, en ten spyte van ons pogings om na haar te soek (is sy steeds vermis). Ons glo dat die saak onmiddellike en gespesialiseerde aandag van die polisie nodig het,” het hy geskryf. Hy het gesê die gemeenskap bepaal hulle soektog langs die rivier waar hulle glo haar liggaam dalk begrawe of onder die water mag wees.

Raadslid Desiree Judge, wat die gesin van die begin af ondersteun, was deel van die soektog. “Die gemeenskap soek al ‘n week lank langs die Breëri­vier naby die Nekkies-vakansieoord vir tekens van haar liggaam, nadat klere en skoene wat haar famlie as hare uitgeken het Vrydag 3 Julie langs die rivier gekry is,” het sy gesê.

‘n Groep inwoners het Dinsdag 9 Julie weer op die plek waar haar klere gevind is byeen gekom. Hulle gebid voordat hulle weer al langs die rivier af na haar gesoek het.

Bewerings het die ronde gedoen dat haar vriend met ‘n asblik in daardie omgewing gesien is. Die polisie se soektog met ‘n hommeltuig het glo niks opgelewer nie.

Murcia is volgens haar tannie, Mirriam van Rooy, sedert voorverlede week soek nadat sy ‘n klagte teen haar mansvriend by die polisie aangemeld het. Haar familie het haar verlede week as vermis aangemeld.

“Murcia was nadat sy die klag aangemeld het, by die huis, maar is weer weg na haar vriend toe. Sy het so tussen die huis, haar vriend en die dorp beweeg – die polisie en die gemeenskap ken haar,” het Van Rooy gesê.

“Ons hoop dat ons haar lewend gaan vind, maar is bekommerd omdat dit nou so lank raak sonder dat ons van haar hoor. As sy dan dood is, is dit vir ons belangrik dat ons darem haar liggaam sal kan kry, sodat ons berusting sal hê.”

Die mansvriend is volgens die polisie aanvanklik nie in hegtenis geneem omdat sy vermis is nie, maar weens klagtes, wat onder andere ontvoering en aanranding insluit, wat Murcia vroeër teen hom ingedien het. “Die ondersoek en soektog na Kock duur steeds voort. Die verdagte is ondervra, maar hy het nog geen inligting oor die voorval gegee nie,” het Jacobs gesê.

‘n Groep inwoners het Dinsdagoggend (8 Julie) weer langs die brug, waar Murcia se klere ontdek is, met grawe en stokke bymekaargekom om verder te soek. Hulle het ‘n hartseer prentjie van Murcia se lewe geskets. Sy is glo al sedert 12-jarige ouderdom in ‘n verhouding met die verdagte. “Sy is gereeld geslaan en aangerand. Onlangs het ons gehoor dat hy haar met ‘n panga geslaan het. Sy is ook al met ‘n draad om die nek gewurg. Sy is telkens na skuilings toe geneem, maar dis asof die man ‘n onverstaanbare aantrekkingskrag gehad het – sy is elke keer weer terug na hom toe,” het hulle vertel.

“Ek het haar kort voor haar verdwyning een aand om hulp hoor skree vanaf hul blyplek. Ons was te bang om uit te gaan om te kyk,” het ‘n buurvrou gesê.

• Skakel die Worcester-polisie by 023 348 8605 met enige inligting oor die saak.

• Die voorval herinner aan dié van die 16-jarige Chanelle Plaatjies wat in Mei in die Paarl vermoedelik deur ‘n vriend vermoor is. Haar liggaam is deur die gemeenskap gevind.

Murcia Kock voor haar verdwyning. Foto: verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.