AfriForum se Alfa-buurtwag, in samewerking met CU Live, ADT en Safe Security, het ses verdagtes aangekeer nadat hulle inligting vanaf die publiek ontvang het oor die mans se verdagte optrede.
Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, sê die verdagtes is in die vroeë oggendure van 26 September in Sandbaai aangekeer nadat lede van die gemeenskap die buurtwag van die verdagtes se doen en late in kennis gestel het.
Volgens Benade het die ses verdagtes in drie groepe van twee saamgewerk.
“Aanvanklik is vier verdagtes vasgetrek nog voordat hulle iewers kon inbreek,” aldus Benade. “Binne 60 minute is nog twee verdagtes gevang wat in besit was van ’n skootrekenaar, selfoon en elektriese koord.
“AfriForum se Alfa-Buurtwag het die vier verdagtes in samewerking met CU Live, ADT en Safe Security Systems gevang en hulle aan die polisie oorhandig wat die saak verder ondersoek. Twee van dié verdagtes word met ’n vorige huisbraaksaak en diefstal uit ’n voertuig verbind.”
Benade het bygevoeg dat dié suksesvolle intervensie die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid en aktiewe deelname in die handhawing van ’n veilige omgewing beklemtoon. “Die waaksaamheid en vinnige optrede van hierdie groepe dien as ’n inspirerende voorbeeld vir ander gemeenskappe en beklemtoon die impak van proaktiewe gemeenskapswagprogramme en die ondersteuning van wetstoepassingsagentskappe,” het hy bygevoeg.
Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se Overstrand-tak en Alfa-buurtwag betrokke te raak. Besoek www.wordlid.co.za.
AfriForum nooi inwoners van die Theewaterskloof-area uit na ’n vergadering wat Donderdag 31 Oktober om 18:00 in die Botrivier-gemeenskapsaal in Hibiskusstraat gehou sal word om die stigting van ’n Theewaterskloof-tak bekend te maak.
Kontak Benade by 081 217 0008 of jacques.benade@afriforum.co.za vir meer inligting.