Een byeenkoms wat
buitelewe-liefhebbers en avontuursoekers nie moet misloop nie, is die jaarlikse
Buitelewe- en Avontuur-ekspo, wat die tweede naweek in November by Grabouw
aangebied word.
Dié saamtrek bring die
jongste buitelewe- en avontuurtoerusting na die Elgin Grabouw-Sportklub en
sluit ’n magdom doendinge vir aktiewe of voornemende avontuursoekers in –
veldryvoertuie, sportnutse, kappies met alles denkbaar, veldry- en gewone
woonwaens, sleepwaens en motorwoonwaens, tente en allerhande kampeertoerusting,
en om almal elke dag van die ekspo vol energie te hou, ook ’n groot
verskeidenheid stalletjies wat snuisterye sowel as eet- en drinkgoed verskaf.
“Ons tweede jaarlike saamtrek hier in
Grabouw beteken dat die ekspo-konsep vroeg reeds momentum opgebou het, en in
hierdie vroeë stadium is die ekspo twee keer groter as verlede jaar,” sê die
skou-aanbieder, André Verster. “Dit is nie ’n vlooimark of musiekfees nie, maar
eerder ’n buitelewe- en avontuur-leefstylervaring wat op besoekers wag. Van
jonk tot oud is welkom, en bring jou hond aan ’n halsband saam om die dag te geniet. Die ekspo
verskaf ook gratis springkastele, gesigverf en ander aktiwiteite vir die
jongklomp.”
Verlede jaar se eerste Buitelewe- en
avontuur-ekspo in Grabouw het in Agustus vanjaar tot die eerste weergawe in die
noorde gelei toe die Buitelewe- en Avontuur-ekspo in Augustus by B’Sora naby
Broederstroom en die Hartbeespoortdam in Noordwes aangebied is.
Die 2024- Buitelewe- en Avontuur-ekspo in
Grabouw begin Vrydag 8 November met die hoogtepunte vir gesinne en
avontuursoekers wat Saterdag 9 November herhaal word en Sondag 10 November
afsluit.
Kampeerders moet vroeg bespreek om
teleurstelling te voorkom. Net 20 staanplekke vir tente of woonwaens is
beskikbaar en kos R600 vir twee mense of R900 vir vier mense vir die hele
naweek (twee nagte ingesluit). Geen elektrisiteit is beskikbaar nie; luukse
mobiele toilette met warm storte en spoeltoilette word voorsien. Jy kan die
kampeerkaartjies slegs op die internet by www.ticketpro.co.za
bespreek.
Kaartjies vir elke dag se ekspo (wat Vrydag
12:00 (R50) en Saterdag en Sondag (R50-R100) om 08:00 begin), is by die hek te
koop of ook aanlyn by Ticketpro (ticketpro.co.za
– blaai ondertoe tot by Exhibition) of klik op www.ticketpro.co.za vir direkte toegang.