Jai Lee Pillay is ’n stil en rustige kind, maar moenie met hom moeilikheid soek nie. Jy gaan gewis tweede kom, want hy het pas die eerste plek in die Online International-karatekampioenskap vir seuns in die ouderdomsgroep 9-12 behaal. Dié aanlyn kompetisie is deur agt beoordelaars van Suid-Afrika, Italië, Sri Lanka, Irak, Engeland, Bangladesj en Indië beoordeel.
Die 12-jarige Jai Lee, ’n graad 6-leerder aan die Laerskool Overberg in Caledon, is geen onbekende as dit daarby kom om kompetisies te wen nie. Op sewejarige ouderdom, asook die daaropvolgende jaar, was hy al die Shokotan-karate se Suid-Afrikaanse kampioen in sy ouderdomsgroep. Hy was so te sê op pad na die volgende kompetisie in Durban toe die Covid-pandemie en daaropvolgende inperkings alles tot stilstand gebring het.
Hermanus Times het met Jai Lee oor sy besondere prestasie gesels. “Ek het baie gelukkig gevoel toe ek hoor ek het die kompetisie gewen. Ek het nie gedink ek gaan dit maak nie. Dit was baie lekker.
“Ek was baie teleurgesteld toe ek nie meer aan plaaslike kompetisies kon deelneem nie, maar ek het die hele tyd geoefen en fiks gebly. Jy moet baie fiks wees en al jou bewegings baie goed ken. Ek het gereeld op ’n trapmeul geoefen en ook ’n slaansak gebruik.”
Jai Lee vertel dat hy al op sesjarige ouderdom karate begin beoefen het.
“Ek het dit baie op televisie gesien en besluit dit is die sport wat ek wil doen. Ek probeer altyd om die beste te wees wat ek kan, en met hierdie sport kan ek myself asook my familie verdedig.”
Pa David, self ’n kranige sportman wat op sy dag vir Boland rolbal gespeel het, verduidelik hoe die aanlyn kompetisie gewerk het. “Die nasionale kampioenskap is aanlyn gehou. ’n Video-opname van deelnemers is by hul plaaslike dojo gemaak en dan beoordeel. Jai Lee was tweede in hierdie kompetisie. Die ses beste deelnemers in Suid-Afrika se video’s is daarna na die internasionale beoordelaars gestuur. Op ’n manier was dit moeiliker, want as jy fisiek aan ’n kompetisie deelneem, is die bewegings vinnig en gou verby. Met die video’s kon die beoordelaars die video terugspeel en weer na sekere bewegings kyk.”
Jai Lee se ma, Valerie, sê: “Ons het ’n baie streng roetine by die huis wat skoolwerk en sport-oefentye betref. Hy is baie toegewyd en werk verskriklik hard, en ek voel hy verdien dit. Ek is baie trots op hom.”
Alhoewel Jai Lee graag ook sou wou rugby speel, neem karate nou al sy tyd en aandag in beslag en het hy nie juis tyd vir stokperdjies nie.
Sy gunstelingkos is pasta en hy wil graag eendag ’n dokter word.