Moord: Bendelid gaan vir 30 j sit

’n Bendelid van die Overstrand is verlede week tot 30 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die moord op Cameron Marc Padayachee van Blompark, Gansbaai, in Desember 2021.


’n Bendelid van die Overstrand is verlede week tot 30 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die moord op Cameron Marc Padayachee van Blompark, Gansbaai, in Desember 2021.

Ronaldo van der Berg (24), ’n lid van die Junior Mafia-bende wat in Gansbaai, Buffeljags en Stanford bedrywig is, is ook 10 jaar gevangenisstraf opgelê op ’n aanklag van poging tot moord, 10 jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en vyf jaar vir die onwettige besit van ammunisie. Hoewel die straf 55 jaar altesaam is, het die hof gelas dat Van der Berg 30 jaar moet uitdien.

Hy is ook ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Die Hermanus-streekshof het bevind dat die Wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (POCA) op al vier aanklagte van toepassing is “aangesien die beskuldigde ten tyde van die pleging van die misdade ’n lid van ’n bende was”.

Padayachee en een van sy werknemers was op 21 Desember 2021 voor sy huis in Kapokblomstraat besig om ’n voertuig te herstel toe Van der Berg verskeie skote op hulle geskiet het. Padayachee se twee kinders, wat ten tyde van die aanval in die voertuig gesit het, is nie beseer nie.

Dit was die tweede aanslag op Padayachee se lewe. Hy het in die eerste voorval van sy aanvallers ontsnap.

Van der Berg het in sy pleit- en vonnisooreenkoms erken dat sy bende besluit het om Padayachee om die lewe te bring aangesien hy geweier het om vir die bende ’n deel van die geld (extortion money) wat hy na bewering uit perlemoenstropery verdien het, te gee. Van der Berg het verklaar hy het agt skote op Padayachee gevuur.

Die aanklaer, Harold Engelbrecht, het ter verswaring van vonnis aangevoer dat Padayachee se moord vooraf beplan en direk op hom gemik was. Hy het die hof ook ingelig dat Padayachee se kinders baie naby was toe hul pa geskiet is en dus erg getraumatiseerd was. “Die beskuldigde het geen agting vir hul veiligheid gehad nie,” het die aanklaer gesê.

Sers. Marlon Appollis van die polisie se teenbende-eenheid het die ondersoek behartig. Dié eenheid het die saak van meet af aan ondersoek aangesien die oorledene na bewering met perlemoenstropery verbind was en beweerde afdreiging genoem is.

 Lt-kol. Winston Coetzee, die Gansbaai-polisie se bevelvoerder, het Appollis, die aanklaers en die landdros geprys vir hul aandeel in Van der Berg se swaar vonnis.

“Ons sal genadeloos wees met misdadigers wat ons gemeenskappe se veiligheid en welstand bedreig. Die hoop is dat hierdie vonnis as waarskuwing sal dien dat misdaad nie lonend is nie,” het Coetzee gesê.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.