Moordenaar van bejaardes van Genadendal dalk vry

Die gemeenskap van Genadendal het verlede week vergader om die moontlikheid te bespreek dat ’n man, wat twee lewenslange vonnisse opgelê is vir ’n bejaarde egpaar se grusame moorde in 2001, op parool vrygelaat kan word.


Die gemeenskap van Genadendal het verlede week vergader om die moontlikheid te bespreek dat ’n man, wat twee lewenslange vonnisse opgelê is vir ’n bejaarde egpaar se grusame moorde in 2001, op parool vrygelaat kan word.

Ongeveer 30 inwoners, onder wie familielede van die gevangene, het ’n vergadering, wat deur die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum gereël is, bygewoon. Die inwoners het ook petisielyste geteken waarin hulle vra as Manuel Azel wel op parool vrygelaat word, hy nie in Genadendal teruggeplaas moet word nie.

Grusame moord op bejaardes

Azel en sy broer is in Augustus 2001 in verband met die moorde op Christof (70) en Hendrieka (73) Wyngaard in hegtenis geneem.

Die gemeenskap het in groot getalle by die broers se eerste hofverskyning opgedaag en ’n versoekskrif met ongeveer 600 handtekeninge, waarin gevra word die verdagtes moet nie op borgtog vrygelaat word nie, aan die landdros oorhandig.

Die Burger het destyds berig die jongste broer het in sy borgtogaansoek getuig hy het kort ná sy inhegtenisneming ’n verklaring afgelê waarin hy skuld op die moorde ontken het en ook gesê het hy het vir die polisie uitgewys waar sy broer die moordwapen versteek het.

Manuel is in 2004 in die Wes-Kaapse hooggeregshof deur regter Nathan Erasmus twee lewenslange vonnisse vir die moorde sowel as 15 jaar vir die rooftog opgelê. Regter Erasmus het in sy uitspraak gesê: “Die wyse waarop dié twee mense, wat op hul ouderdom hul lewe onder die beste omstandighede moes geleef het, aan hul einde gekom het, is uiters wreedaardig.”

Hy het gesê dit is in die belang van die gemeenskap dat ’n vonnis opgelê word wat die gemeenskap sal verseker dié soort optrede sal nie geduld word nie.

Volgens Die Burger se berig het Erasmus aan naasbestaandes van die oorledenes gesê nuwe wette sal in werking tree wat familielede van moordslagoffers en ander ernstige misdade die reg sal gee om inspraak te hê oor wanneer ’n beskuldigde vir parool in aanmerking mag kom.

Gemeenskap verdeeld

Dit is presies wat nou gebeur het met die vergadering wat deur die plaaslike GPF beroep is.

Die GPF-voorsitter Trevor Hermanus sê die aanvanklike voorstel was dat Azel, vergesel deur beamptes van die departement korrektiewe dienste, met die gemeenskap moes vergader. Dit kon ongelukkig nie gebeur nie, sê Hermanus omdat daar nie genoegsame polisiëring was nie. Die gemeenskap, sê hy, was ook erg verdeeld oor Azel se vrylating op parool.

“Die oorgrote meerderheid voel hy verdien ’n tweede kans aangesien hy baie jonk was toe dit gebeur het en al 23 jaar in die tronk is. Ander, soos die polisielede wat die klagte bygewoon het, voel anders aangesien die moord so wreed was.”

Jason Giliomee, ’n plaaslike gemeenskapsleier, sê talle het die vrees uitgespreek dat Azel weer by misdaad betrokke sal raak en moontlik weer moord kan pleeg as hy vrygelaat word.

“Mense vrees ook dat hy op van die getuies sal wraak neem,” het Giliomee bygevoeg.

Volgens Hermanus is kommer ook uitgespreek oor Azel se veiligheid indien hy terug in die gemeenskap sou kom.

Azel se familie het hulle egter gerusgestel dat hy, indien hy vrygelaat word, in Franschhoek sal gaan woon.

Volgens Hermanus beoog hulle om ’n opvolgvergadering te hê waar Azel self teenwoordig sal wees. “Ons het versoek dat hy, tesame met DKD-beamptes en met genoeg polisiëring, by die volgende vergadering sal wees sodat hy self met mense van die gemeenskap kan praat,” het Hermanus verduidelik.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.