Nathan en Ethan Telemachus voor die Bredasdorp-landdroshof tydens een van Ashley October en Tashwell van der Rheede se vorige hofverskynings.


Anders as ander jongmense wat hul 21ste verjaarsdag met ’n vrolike party en vonkelwyn vier, het Nathan Telemachus sy spesiale dag (Sondag 15 Mei) somber langs sy ma se graf deurgebring.

Nathan en sy sibbe se lewe is omvergewerp toe hul oudste broer, Ethan, Maandag 12 Julie 2021 vroeg die oggend op hul ma, Charlene October, se liggaam in haar huis in Elim afgekom het.

Ethan was op pad om sy baba, wat destyds een maand oud was en die nag by haar ouma oorgeslaap het, te gaan haal toe hy haar lyk ontdek het.

Wat die verlies en trauma vir hulle vererger het, was toe Ashley October, Charlene se gewese man en die twee jongste sibbe se pa, in November verlede jaar in verband met hul ma se moord en die rooftog by die winkel langs haar huis, in hegtenis geneem is.

October en sy medebeskuldigde, Tashwell van der Rheede, het Vrydag 20 Mei vanjaar vir hul voorverhoor-konferensie in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn.

October is aangekla van opsweping tot moord, sameswering om te roof en moord te pleeg, huisbraak met die doel om te roof en moor, twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede, moord en poging tot dwarsboming van die gereg.

Van der Rheede staar aanklagte van opsweping tot moord (incitement to commit murder) en sameswering om te roof en moord te pleeg, in die gesig.

Albei mans se borgtogaansoeke is afgekeur. Die voorverhoor-konferensie sou volgens berigte aanvanklik deur regter Robert Henney behartig word, maar is toe aan regter Nathan Erasmus oorhandig.

Die saak is tot 1 Augustus uitgestel wanneer die hooggeregshof in die Swellendam-landdroshof sal sit.

You need to be Logged In to leave a comment.