Afgevaardiges by die nuwe ruimteweersentrum by Sansa in Hermanus.


Die
departement van hoër onderwys, wetenskap en innovasie het R70,8 miljoen belê in
‘n ruimte-weersentrum by die SA Nasionale Ruimte-agentskap (Sansa) in Hermanus
en elke sent was die moeite werd.

Nie
net is die sentrum enig in sy soort in Afrika nie, maar gaan die res van die
wêreld ook hierby baat.

“Dit
is lekker om ná een jaar terug in Hermanus en veral by Sansa te wees”.

Dit was Donderdag (3 November) die woorde van die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, nadat Sansa ‘n mulitmiljoenrand-ruimteweersentrum bekendgestel het. Dit was ‘n belangrike dag vir nie net Suid-Afrika nie, maar ook vir Hermanus. Verskeie afgevaardiges van Europe, Amerika en Afrika het hierdie spesiale dag saam gevier. 

“’n Jaar
gelede was ek hier vir die sooispit van die 24/7-ruimteweersentrum en vandag
staan ek hier voor die gebou wat spog met die nuutste tegnologie,” het Nzimande
in sy toespraak gesê.

Volgens
‘n woordvoerder van Sansa monitor hulle al vir ‘n lang tyd die weer in die
ruimte, maar hulle was baie beperk tot ekstra inligting. “Dié monitering het
gehelp om die son en sy aktiwiteite te bepaal en sodoende ruimteweervoorspelling
te maak, omgewingsdata in te win en waarskuwings uit te reik rakende ruimteweertoestande.
Danksy hierdie nuwe sentrum kan ons ook nou die nuutste tegnologie inspan om
meer akkurate inligting te kry. Ruimteweer kan ‘n invloed hê op elektriese
toebehore wat afhanklik is van satelliete, kommunikasiestelsels en selfs
GPS-seine en vroeë waarskuwings van ruimteweer is van kardinale belang om
satelliete, navigasiestelsels en nasionale kragnetwerkwerke te beskerm,” het
die woordvoerder gesê.

Nzimande
het sy toespraak afgesluit deur te sê dat dié onwikkeling die waarde van
wetenskap beklemtoon en dat Suid-Afrika nie hoef terug te staan vir enige ander
land as dit kom by navorsing en tegnologie nie. “Ek glo dat ons oor die wêreld
heen ‘n positiewe bydrae sal kan lewer as dit by die voorspelling van ruimteweer
kom,” het hy gesê.   

You need to be Logged In to leave a comment.