Die beboste natuurreservaat tussen Kusweg en die see in Kleinmond hou volgens van die inwoners ’n ernstige gevaar vir hul veiligheid en eiendom in.
Hulle wil hê die munisipaliteit moet dit oorweeg om die beboste deel af te brand of te snoei.
Volgens Cobus van den Berg, wat in Kusweg woon, het daar oor die afgelope paar maande verskeie insidente van ongemagtigde betreding, kwaadwillige beskadiging en inbrake plaasgevind.
“My huis by die see het ’n nagmerrie geword. As inwoners en belastingbetalers verdien ons ’n basiese reg op persoonlike veiligheid asook die veiligheid van ons eiendom. Dié reg is ongelukkig oor die laaste paar maande geskend as gevolg van inbrake, soms helder oor dag. Dit alles aangesien die beboste deel oorkant Kusweg nou die ideale wegkruipplek vir inbrekers geword het.”
Meer as R50 000 se goedere is vroeër die maand by Van den Berg se huis gesteel toe daar helder oor dag ingebreek is.
“Daar is onder meer TV’s, ’n musieksentrum asook duur wyne onder die items wat gesteel is. Die inbrekers het toegang bekom deurdat hulle die voorste skuifdeur met ’n koevoet oopgebreek het. By nadere ondersoek het ek op verskeie skuilplekke in die bosse afgekom van waar bewegings waarskynlik fyn dopgehou word. Behalwe vir verskeie sigaretstompies, wat nie net dui op die teenwoordigheid van mense wat in die bosse skuil nie, hou dit ook ’n brandgevaar vir ons eiendom in.”
Van den Berg sê hy is self skuldig aangesien hy nie al lankal ingegryp het nie.
“Rondom my is ’n hele paar bure ook al die afgelope maande beroof. Die probleem het eintlik al lankal begin kop uitsteek, maar mens skrik mos eers wakker as dit met jou ook gebeur. Ek is dus self skuldig dat ek so lank gewag het om by die probleem betrokke te raak.”
Van den Berg het egter die afgelope maand al drie keer versoeke aan Overstrand-munisipaliteit se omgewingsbestuurafdeling gestuur, maar nog geen terugvoering ontvang nie.
Die Overstrand-munisipaliteit het onderneem om kommentaar te verskaf in die volgende uitgawe van die Hermanus Times (Donderdag 28 Oktober).