Vroeg Sondagoggende het die gebeier van die St Michael and All Angels Anglikaanse kerk se kerkklok oor Myddleton weerklink. Elke Sondag vir meer as 70 jaar. Maar nie meer nie. Dis nou tjoepstil want die kerkklok is gesteel.
Die Hermanus Times het met Roderick Carelse, kapelvoog van die kerk, gesels oor die diefstal van die klok. “Ons vermoede is dat die klok Vrydagaand 22 April gesteel is. Ek het die Saterdag kom skoonmaak, maar nie opgelet dat die klok weg is nie. Brian Oliver, wat ook Saterdag hier was, het my in kennis gestel. Dit is skokkend. Ek het dit toe onder gemeentelede wat nie bewus was van die diefstal nie, se aandag gebring.”
“Vir my voel dit asof die kerk nou dood is. Die klok is ouer as ek. Ek het hom kom kry hier. Dit is maklik 70 jaar oud. Ek is grootgemaak om hierdie kerk te dien. As kind het my pa my gereeld ingespan om verskeie takies in en om die kerk te doen. Ek kan sê ek en dié kerk verjaar op een dag en daarom is die kerk vir my so spesiaal en na aan my hart.”
Carelse was ook die beiaardier, die persoon wat gewoonlik vroeg op ’n Sondagoggend die kerkklok gelui het. Met ’n besoek aan die kerk wys Carelse uit waar die klok gehang het, hoe dit duidelik afgesaag is en ook na die beskadigde sinkplaat op die toringdak, waar die diewe vermoedelik opgeklim het om die klok te steel.
“Vir die persoon of persone wat dit gedoen het, voel ek baie jammer. Hulle het nie net skade aan die kerkgebou en die gemeenskap aangerig nie, maar ook aan hulle self. God slaap nie en die Woord sê vir ons, ons kan by die mens verby kom, maar by God gaan ons nie verbykom nie. Ek is nie daar om te oordeel nie, maar hulle sal eendag moet rekenskap gee vir hul dade.”
Carelse noem daar sal na verskeie opsies gekyk word om die klok te vervang. Dit sluit moontlik ’n “elektroniese klok” in, wat met die druk van ’n knoppie sal lui, maar “dit gaan in elk geval nie dieselfde wees nie,” sê ’n geskokte en hartseer Carelse.